AfriForum toets landswyd gehalte van water met waarnemingsprojek
AfriForum gaan vandeesmaand omvattende toetse na die gehalte van bykans 160 gebiede se drink- en rioolwater doen om plaaslike regering verantwoordbaar te hou vir dié basiese mensereg. Die burgerregteorganisasie mobiliseer met sy watergehaltewaarnemingsprojek AfriForum-takke van oor die land heen om hierdie belangrike moniteringsfunksie te vervul. Dit sal die 14de jaar wees wat AfriForum dié soort toetsing doen.
Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, skets die Departement van Water en Sanitasie se jongste verslae ’n kommerwekkende prentjie van die toestand van Suid-Afrika se waterinfrastruktuur. Luidens die departement se syfers verkeer byna die helfte (47%) van die land se munisipale rioolaanlegte in ’n kritieke toestand, terwyl honderde drinkwaterstelsels steeds as hoërisiko of kritiek geklassifiseer word.
“Hierdie bevindings plaas opnuut die kollig op plaaslike regering se versuim om daadwerklik op te tree teen die verval van waterinfrastruktuur en die voortdurende besoedeling van die land se natuurlike waterbronne. Miljoene liter rou riool word weens die swak bestuur en onvoldoende kapasiteit van rioolaanlegte in riviere en ander waterbronne gestort en plaas dan die gesondheid van miljoene mense landwyd in gedrang,” sê De Klerk.
“Gemeenskappe kan nie verder vertrou dat die staat veilige drinkwater sal verseker nie. AfriForum toets daarom self die gehalte van drinkwater om gemeenskappe van betroubare inligting te voorsien en owerhede tot optrede te dwing.”
Die uitslae van die watergehaltetoetse sal aan plaaslike munisipaliteite oorhandig word en indien die resultate nie aan die voorgeskrewe standaarde voldoen nie, sal AfriForum verseker dat gemeenskappe onmiddellik van enige gevare in kennis gestel word. Die burgerregteorganisasie sal ook die betrokke munisipaliteite aanmaan om so gou as moontlik enige probleme met die watergehalte op te klaar of die risiko loop om voor die hof gedaag te word.



