AfriForum toegelaat as vriend van die hof in mylpaalsaak oor magte van die SAMRK

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)
Klankgreep: Louis Boshoff (Engels)

Die Konstitusionele Hof het toestemming gegee dat AfriForum mag optree as vriend van die hof (amicus curiae) in ’n saak oor die magte en bevoegdhede van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK). AfriForum se regspan het ook reeds hul voorlegging by dié hof ingedien en voer aan dat die SAMRK slegs bevindings kan maak in ondersoeke, maar nie bindende direktiewe mag uitvaardig nie.

Die saak spruit uit ’n bevinding van die SAMRK in ’n ondersoek oor grondbesetters se toegang tot boorgatwater op ’n plaas in Mpumalanga. Wat aanvanklik ’n geskil was tussen die grondeienaar, AgroData, en ’n groep besetters, het intussen ontaard in ’n grondwetlike geskil oor die beperkings van die SAMRK se magte. AfriForum het reeds as vriend van die hof opgetree toe die saak in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein aangehoor is. Dié hof het in die grondeienaar se guns beslis en swaar gesteun op die beginsels wat in AfriForum se argumente gestel is. AfriForum sal nou dieselfde grondwetlike beginsels in die Konstitusionele Hof verdedig, nadat die SAMRK hom tot hierdie hof gewend het om die uitspraak te appelleer.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, sal dit rampspoedig wees as al die SAMRK se aanbevelings – waarvan sommige verregaande is – bindend word. “Verskeie geloofwaardige bronne het al getoon dat politieke en rassevooroordeel bespeur kan word in die Menseregtekommissie se bevindings en keuse van ondersoeke,” sê Boshoff. “Dit is noodsaaklik dat sulke bevindings nie sonder meer afgedwing kan word nie.”

AfriForum huldig die standpunt dat die SAMRK, in elke geval wat die kommissie ondersoek, eerder samewerkende optrede onder die betrokke partye moet bewerkstellig. Verder moet die kommissie se aanbevelings slegs as bindend beskou word wanneer dit deur ’n hof afgedwing word.

Die twee respondente, AgroData en F.G. Boshoff, het aangedui dat hulle nie die SAMRK se appèl gaan opponeer nie, terwyl beide AfriForum en die Sentrum vir Toegepaste Regstudies as vriend van die hof sal optree. Die saak was ook onbestrede deur die Hoogste Hof van Appèl aangehoor. Die datum waarop die Konstitusionele Hof die saak aanhoor is nog nie bekendgemaak nie.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik