AfriForum teken appèl aan teen Ekurhuleni-metro oor rioolbesoedeling
AfriForum het op 13 Oktober ’n interne appèl teen die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit aangeteken nadat dié metro versuim het om op ’n aansoek te reageer wat in Augustus ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien is. Die burgerregteorganisasie het in die aanvanklike aansoek inligting versoek rakende rioollekkasies en rioolpompstasies wat buite werking is. Teen 23 Oktober het die metro nog nie ’n woord gerep oor die interne appèl nie.
Die PAIA-aansoek volg in reaksie op die voortslepende rioolbesoedeling in die Ekurhuleni-metro wat besig is om handuit te ruk en ’n ernstige omgewings- en gesondheidsrisiko’s inhou. Rou riool wat in onder meer Main Reef-weg (tussen Benoni en Brakpan) gevloei het, het slaggate in die pad veroorsaak, wat ’n aantal voertuie beskadig het. Motoriste kon nie die slaggate sien nie omdat dit met rioolwater bedek was. Die waterhiasinte in Civic-meer en Homestead-dam in Benoni is ook een van die groot oorsake van rioolbesoedeling.
Luidens ’n onlangse verklaring van die Ekurhuleni-metro is rioolpype in Chief Albert Luthuli, Benonie, ontbok. Die blokkasies is hoofsaaklik deur vreemde voorwerpe veroorsaak. Hoewel AfriForum hierdie herstelwerk verwelkom, is daar nog heelwat wat gedoen moet word.
“AfriForum soek antwoorde en eis dat die metro dringend aandag aan hierdie rioolkrisis gee deur die nodige herstelwerk van die pompstasies en stormwaterkanale. Hierdie infrastruktuur speel ’n kern rol om rioolbesoedeling, oorstromings en verdere omgewingskade te voorkom,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
Die Ekurhuleni-metro het tot 12 November om op AfriForum se interne appèl te reageer. Indien AfriForum nie binne die voorgeskrewe tydperk terugvoer ontvang nie, sal die organisasie die inligtingsreguleerder nader om ’n klagte in hierdie verband in te dien.





