|

AfriForum-teenboelieveldtogspan kuier by skole in Langeberg-munisipale gebied

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 17 Maart besoek afgelê by Wakkerstroom-Wes Primêre Skool (buite Robertson), Laerskool Ashton en Hoërskool Montagu in die Langeberg-munisipale gebied. Altesaam 1 497 leerders het tydens hierdie besoeke geleer oor die impak van boeliegedrag en hoe om dit raak te sien en te hanteer.

Volgens Tania Scheepers, AfriForum se noordstreek koördineerder vir Onderwys en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies, kan boeliegedrag fisiese en emosionele skade berokken. Daarbenewens kan boeliegedrag ook lei tot swak akademiese prestasie.

“Die kinders het die aanbieding oor boeliegedrag terdeë geniet en definitief iets geleer. Sulke aanbiedinge is geweldig belangrik aangesien die woord ‘boelie’ deesdae maklik gebruik word vir ’n enkele voorval. Die kinders moet leer dat wanneer dit herhalend is, is dit boeliegedrag. Dit is belangrik dat hulle daagliks die wapenuitrusting van God aantrek om sodoende ’n kultuur van respek en verdraagsaamheid te skep,” sê Jakkie Burger, voorsitter van AfriForum se Langeberg-tak en skoolhoof van Laerskool Ashton.

“Dit is vir AfriForum belangrik dat leerders die teenboeliepraatjie bywoon wat begrond is in die volle wapenrusting van God, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om gevare in die toekoms te voorkom,” sluit Scheepers af.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings