AfriForum Teater pronk wéér met ’n Naledi-benoeming

AfriForum Teater is trots om aan te kondig dat sy eie Pieter-Louis van Twisk vir ’n Naledi-toekenning benoem is in die kategorie Beste Klankontwerp. Van Twisk deel hierdie eer met Wilf Mahne, ’n bekende dramaturg in die teaterwêreld, vir hul werk aan Aspoestertjie – Die Pantomime, ’n produksie van Oak Entertainment, wat van 4 tot 13 Desember 2024 op AfriForum Teater se planke te sien was.

Van Twisk, wat sedert 2021 as klankingenieur by AfriForum Teater werksaam is, is geen vreemdeling vir hierdie toekenning nie. Hy is voorheen genomineer vir sy uitmuntende klankontwerp in Die Kaplyn – die musiekblyspel, asook Die Gelofte – die musiekblyspel, waarvoor hy ’n Naledi-toekenning ingepalm het.

“Ons is geweldig trots op Pieter-Louis Hy is sekerlik een van die beste klankingenieurs in die land en maak ons werk vir ons ’n plesier. Dit is ’n reuse-voorreg om saam met hom te werk,” sê Salet Smith, bestuurder van AfriForum Teater.

Nog ’n hoogtepunt is dat Gé Sing: Hoor My Lied!, wat binnekort by AfriForum Teater te sien is, ook Naledi-benoemings ontvang het. Teatergangers kan dié produksie van 11 tot13 April kom geniet.

Die datum waarop die Naledi-wenners tydens ’n deftige funksie aangekondig word, is nog onbekend.

Van Twisk is ook die klankingenieur vir Semi-Soet – die musiekblyspel, wat vanaf 7 Mei by AfriForum Teater aangebied sal word.

AfriForum Teater bly ’n waterput vir topgehalte produksies en baanbrekerswerk in die Afrikaanse uitvoerende kunste. “Ons is trots op ons hoë gehalte produksies en bly daartoe verbind om ’n tuiskomplek vir Afrikaanse kunste te wees,” sluit Smith af.

Besoek AfriForum Teater se webblad vir huidige en toekomstige produksies.

Soortgelyke plasings