|

AfriForum-tak se jeugvleuel verfraai Slag van Bronkhorstspruit-monumente

Die jeugvleuel van AfriForum se Bronkhorstspruit-tak het die afgelope Erfenisdag hul moue opgerol en broodnodige herstelwerk aan die Slag van Bronkhorstspruit-monumente gedoen. Daar is twee monumente aan beide kante van die R25. Die een monument gedenk die Boere en die ander een gedenk die Britse soldate wat tydens die Slag van Bronkhorstspruit op 20 Desember 1880 gesneuwel het. Die monumente was vir jare lank verwaarloos en in ’n haglike toestande gelos voordat AfriForum se Bronkhorstspruit-tak besluit het om die monumente skoon te maak en die jeug betrokke te kry by die land en dorp se geskiedenis.

Vanjaar is die monument wat die Britte gedenk oorgeverf en onkruid, wat die heinings toegegroei het, is by beide monumente verwyder. Dié AfriForum-tak het ook met kruiwaens altesaam vyf ton gruis by die Britse- en Boere-monument gegooi en dit gelykgemaak. Die gedenkplate was ook afgedop en onleesbaar, maar dit is deur die tak herstel sodat besoekers aan die terrein voorts meer oor dié stukkie geskiedenis te wete kan kom. Twee jeuglede het ná al die harde werk kranse neergelê wat deur die plaaslike FAK-Kultuurnetwerk geskenk is.

“Die tak het spesifiek hierdie monumente geïdentifiseer omdat dit vir die gemeenskap van Bronkhorstspruit na aan die hart lê en deel van hul geskiedenis is. Dis mooi om te sien hoe die jeug ook inspring en eienaarskap neem van hul dorp en erfenis,” sê Magda Lewis, voorsitter van die Bronkhorstspruit-tak.

“Om al die harde werk te vier het al die betrokkenes ná afloop van die verrigtinge ons Afrikaner-erfenis gevier deur te braai en koeksisters, melktert en gemmerbier te geniet,” voeg Lewis by.

Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, sê hierdie inisiatief is maar net die een van die vele projekte wat AfriForum in Bronkhorstspruit aanpak om ’n dorp te bou waarop alle lede van die gemeenskap trots kan wees. Besoek www.wordlid.co.za om by dié AfriForum-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings