|

AfriForum-tak in Viljoenskroon maak area om Rotariërhuise skoon

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het die afgelope maand die area om die Rotariërhuise (behuising vir bejaardes) skoon en netjies gemaak. Alhoewel die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit verantwoordelik is daarvoor om die area netjies te hou, het die tak agtergekom dat dit so oorgroei is dat dit onmoontlik is om te sien wat binne die perseel aangaan. Omdat dit hoofsaaklik senior burgers is wat daar woon, het die tak besluit om self in te spring en dit skoon te maak ter wille van die inwoners se veiligheid en gesondheid. Die AfriForum-buurtwag kan ook nou beter sien tydens hulle patrollies.

Die gras is gesny, bossies is verwyder en dan is die area ook met onkruidgif behandel om te verhoed dat dit weer so oorgroei raak. Daar is ongeveer 450 vierkante meter skoongemaak en 67 sakke vullis, gras en takke is weggery.

“Dit is ’n wonderlike inisiatief van die tak om na die belange van kwesbare mense om te sien waar hulle dit nie self kan doen nie en waar die munisipaliteit in gebreke bly om hulle plig uit te voer,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Die AfriForum-tak probeer stukkie vir stukkie om die dorp skoon te hou. Dit is verblydend om te sien dat inwoners dit raaksien en ook nou self die moeite doen om hulle erwe skoon te maak. Ek wil spesiaal aan Willie en Lynne Griessel dankie sê, wat aan ons die werkers verskaf het. Saam is ons sterker en sal ons Viljoenskroon weer ’n netjiese dorp maak,” sê Attie Barnard, takvoorsitter van AfriForum in Viljoenskroon.

Indien jy wil betrokke raak by die AfriForum-tak, kontak Barnard by 082 557 1428. Om by AfriForum se Viljoenskroon-buurtwag betrokke te raak, kontak Herman Smit by 072 127 2250.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf