AfriForum-tak in Sasolburg maan Metsimaholo-munisipaliteit oor laat kennisgewings
Die AfriForum-tak in Sasolburg het ’n dringende skrywe aan die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit gerig omdat kennisgewings oor hersonering nie betyds afgelewer word nie. Kennisgewings word uitgereik aan diegene wat geraak word deur hersoneringsaansoeke om kommentaar daarop te lewer of beswaar te maak. AfriForum maak nou kapsie teen ’n kennisgewing wat eers twee dae voor die afsnydatum vir enige reaksie by belanghebbendes uitgekom het.
Luidens die kennisgewing vir die hersonering van erf 3251, geleë te Pretoriusstraat 52 in Sasolburg uitbreiding 3, is daar van 11 April tot 11 Mei geleentheid gebied vir kommentaar of beswaar. Die kennisgewing is egter eers op 9 Mei aan al die inwoners wat geraak word, afgelewer. Wat dit nog slegter maak, is dat dit op ’n Vrydag was en dat die afsnydatum op ’n Sondag was. Volgens AfriForum wil dit voorkom asof daar doelbewus nie genoeg tyd vir kommentaar gegee word nie, want dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie.
In ’n brief aan die munisipaliteit op 12 Mei, het AfriForum dit duidelik gemaak dat dit volgens die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruiksbestuur (wet 16 van 2013) en die Munisipale Beplanningsverordening egter onwettig is om kennisgewings te laat uit te reik en dat dit verpligtend is dat daar genoegsame tyd aan belanghebbendes gegee word om te reageer. AfriForum versoek die Metsimaholo-munisipaliteit om sy kennisgewingsprosedures te hersien om te verseker dat inwoners tydige en voldoende kennisgewing van hersoneringsaansoeke ontvang. Dit sal nie net aan die wetgewende vereistes voldoen nie, maar ook groter vertroue en samewerking tussen die munisipaliteit en die gemeenskap bevorder. AfriForum wag steeds op terugvoer.
“Inwoners van Sasolburg is baie bekommerd oor hierdie toedrag van sake, omdat daar reeds ’n klomp onwettige kommunes in Sasolburg is en hierdie lyk na ’n poging van die munisipaliteit se kant om die hersonering op ’n onwettige manier gedoen te kry. Ons vra inwoners wat soortgelyke probleme ondervind om onverwyld met die AfriForum-tak kontak te maak,“ sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van die Mooirivier.
Die gemeenskap word aangemoedig om by die AfriForum-tak in Sasolburg betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak. Kontak Johan Hayward by 073 885 1365 of Braam Muller by 076 125 7773.