|

AfriForum-tak in Klerksdorp maan munisipaliteit om laagwaterbrug in Leemhuisstraat dringend te beveilig

Die AfriForum-tak in Klerksdorp doen ’n beroep op die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit om die laagwaterbrug in Leemhuisstraat dringend te beveilig voor ’n tragedie hom daar afspeel. Die stormwaterkanale in die straat word nie skoongemaak nie, wat veroorsaak dat die brug oorstroom sodra dit baie reën. Die brug het ook nie relings langs die kante nie en op 5 Februarie het die vloedwater ’n voertuig van die brug af meegesleur. Gelukkig is niemand beseer nie.

Luidens ’n brief wat AfriForum op 19 Februarie aan die Matlosana-munisipaliteit gestuur het, is die organisasie se Klerksdorp-tak veral bekommerd vir wanneer ’n kind in ’n voertuig, wat meegesleur word, vasgekeer is. Dit kan maklik gebeur dat die kind nie gou genoeg uit die water gered word nie, wat tot beserings of sterftes kan lei.

Die afgelope naweek was daar egter reeds ’n paar noodgevalle omdat die brug oorstroom was weens die aanhoudende reën. AfriForum se Songloed-buurtwag het die straat van die laagwaterbrug dag en nag gepatrolleer en dit afgesper tot waar Leemhuis- en Steynstraat kruis. Ten spyte daarvan dat motoriste gewaarsku is om alternatiewe roetes te neem, was daar steeds motoriste wat hierdie waarskuwing geïgnoreer het en die oorstroomde laagwaterbrug met hul voertuie aangedurf het.

Met die eerste voorval het ’n motoris met sy voertuig oor die brug probeer ry maar toe in die spruit beland. Daar was onmiddellike reaksie van AfriForum se Songloed-buurtwag, die plaaslike La Hoff-buurtwag, Netcare 911, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die verkeerspolisie. Die bestuurder is betyds uit die voertuig gered sonder ernstige beserings.

In ’n ander voorval het twee jong mans en ’n bejaarde vrou in die stroom beland en moes met ’n bootjie uitgeroei word.

AfriForum se Songloed-buurtwag het ook gehelp om inwoners se huise en ouetehuise te ontruim, diere en kleinvee op kleinhoewes na veiligheid gebring, die konstante monitering en bemanning van die laagwaterbrug, asook die deurgee van inligting aan die gemeenskap.

Buurtwaglede is tans besig om gevaarlike vloedskade aan die strate te identifiseer. Slaggate is al in Yusuf Dadoostraat en Buffelsdoornweg herstel.

“Wanneer dit baie reën, word die munisipaliteit se tekortkominge maklik uitgewys. As die stormwaterkanale skoon was, sou die water daarin kon vloei en nie die pad oorstroom nie. En as daar ’n reling langs die brug was, sou voertuie dalk nie van die brug af beland het nie. Ek is egter baie dankbaar en trots op almal wat tydens die krisis gehelp het om mense en diere te red. Die samewerking was uitstekend en ’n mens is dankbaar dat die verskillende instansies kon hande vat. Ek hoop werklik dat die munisipaliteit nou erns sal maak met die tekortkominge wat daar is wat tot inwoners se dood kan lei,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak Henda Jordaan by 082 783 5272.

Soortgelyke plasings