NGV en die mite van sukses in soortgelyke stelsels elders
Deur Louis Boshoff
Die ANC-geleide regering wil dikwels Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) voorhou as die oplossing wat die wêreld se mees gevorderde ekonomieë reeds geïmplementeer het, en nou ook plaaslik nagedoen moet word. ’n Vinnige kykie na die werklikhede van hierdie lande se gesondheidstelsels wys egter daarop dat NGV om minstens drie redes nie plaaslik as oplossing voorgehou kan word nie:
- Wesenlike verskille: Suid-Afrika se voorgestelde NGV-stelsel verskil op ’n paar kritieke punte van die stelsels in die lande wat die ANC as voorbeeld voorhou.
- Die gras is nie groener nie: Die gesondheidstelsels wat as voorbeelde voorgehou word, funksioneer nie so rooskleurig as wat die ANC wil voorgee nie en verkeer in die meeste gevalle onder ernstige druk.
- Swakker ekonomie: Die voorgehoue gesondheidstelsels is afhanklik van ’n veel sterker ondersteunende ekonomie as waaroor Suid-Afrika beskik.
Die definiërende kenmerk van Suid-Afrika se NGV-wet, is die bepaling dat mediese fondse nie dekking gaan mag bied vir dieselfde gesondheidsdienste en -produkte as wat eindelik deur die NGV-fonds gedek word nie. Betaal die NGV-fonds vir ’n knievervanging – dan mag Bestmed of Discovery dit nie meer doen nie. Kan jy by die NGV-fonds eis vir jou bloeddrukpille – dan mag jy nie meer by GEMS of Medihelp daarvoor eis nie. Dít is die enkele bepaling wat ’n hele ekonomiese sektor kan platslaan. Dit is ook die één bepaling wat geheel en al afwesig is in die gesondheidswette van meeste van die lande wat die ANC as voorbeeld voorhou.
NGV vs NHS: Twee uiteenlopende ekonomieë

Die Verenigde Koninkryk (VK) se Nasionale Gesondheidsdiens (NHS) is al voorgehou as ’n navolgenswaardige voorbeeld wat ook hier op eie bodem toegepas kan word, maar daar is talle probleme met dié gedagte:
- Die KV se jaarlikse belastinginkomste is nagenoeg tien keer meer as Suid-Afrika s’n. Dus is daar geen redelike vooruitsig dat ’n stelsel soortgelyk aan die NHS en wat met die hulp van belasting gefinansier word doeltreffend in Suid-Afrika ingestel sal kan word nie.
- Britse wetgewing plaas geen verbod op mediese fondse om dieselfde dienste te dek as die NHS nie. Daarenteen verbied die NGV-wet wel dekking van dié aard.
- Die gemiddelde wagtyd vir mediese prosedures in die NHS is ongeveer 20 weke.
- Ongeveer ’n derde van Britse mediese studente het in 2023 in ’n peiling aangedui dat hulle ná hul internskap (“foundation programme”) die NHS wil verlaat.
Dié oorsigtelike vergelyking tussen die twee lande en hul onderskeie gesondheidstelsels benadruk die volgende:
- Die VK handhaaf ’n meer gunstige vryemark-omgewing vir gesondheidsfinansiering as wat plaaslik met die NGV beoog word.
- Die VK kan baie meer belastinggeld toewys aan hul gesondheidstelsel as wat die Suid-Afrikaanse regering kan.
- Ondanks ’n veel groter belastinginkomste verkeer die NHS tans onder hewige druk.
Vergelyking met die Kanadese en Taiwannese gesondheidstelsels lei tot soortgelyke bevindings en voorspel niks goeds vir die plaaslike NGV-plan nie.
NGV vs Kuba se SNS

Kuba se nasionale gesondheidstelsel, bekend as die Sistema Nacional de Salud (SNS), is nog een van die ANC se gunstelingvoorbeelde van staatsbeheerde gesondheidstelsels.
Kuba spog dikwels daarmee dat alle gesondheidsorg in die land gratis voorsien word. Dié stelling verdien egter konteks, want “gratis” beteken natuurlik bloot “gratis by die punt van lewering” en nie “gratis vir die belastingbetaler nie”.
Dié land spog boonop verder met indrukwekkende syfers rakende die getal opgeleide dokters, beskikbare hospitaalbeddens en mediese studente. Tog is kommunistiese regimes, soos Kuba s’n, berug daarvoor dat hulle beter syfers rapporteer as wat werklik die geval is en dat hulle nie buitelandse waarneming toelaat nie. Dié vermoede word verder bevestig deur die feit dat Kuba se bepaalde gesondheidsuitkomste (insluitende onder meer lewensverwagting en babasterftekoers) glad nie so fabelagtig is nie.
Die feit bly staan: al is die Kubaanse gesondheidstelsel dalk relatief goed, kom dit ten koste van die res van die ekonomie en burgers se lewenstandaard. Dit is duidelik sigbaar in die getal vlugtelinge wat Kuba verlaat op soek na groener weivelde (of voller winkelrakke).
Die ironie van die ANC se gedurige drome om ’n gesondheidstelsel soos sommige ander lande te hê, is dat hulle nooit moeite doen om die bestaande Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel reg te ruk nie. Dit is tyd dat die ANC ophou karring aan die struktuur van die plaaslike gesondheidstelsel en meer fokus op die bestuur daarvan.



