|

AfriForum stel tweedag-ultimatum aan Tshwane-metro oor reusewaterlek in Pretoria-Oos

Klankgreep: Arno Roodt (Afrikaans)

Klankgreep: Arno Roodt (Engels)

AfriForum het vandag ’n formele ultimatum aan die Tshwane-metro gerig om te eis dat ’n reusewaterlekkasie in Rossouwstraat in Murrayfield in die ooste van Pretoria, wat al weke lank grootskaalse watervermorsing en skade aan die padoppervlak veroorsaak, binne twee werksdae herstel moet word. Dié lekkasie is volgens AfriForum ’n duidelike bewys van die metro se onverskillige versuim om basiese infrastruktuur te onderhou.

Volgens Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid, is die metro se versuim om die lekkasie te herstel te midde van die vlak 1-waterbeperkings wat in die metro geld, juis te meer onaanvaarbaar. “Daar word dus van inwoners verwag om water spaarsamig te gebruik, terwyl die metro self skuldig is aan massiewe watervermorsing,” beklemtoon hy. “Dit is onbillik én onaanvaarbaar dat die metro se traagheid die einste maatreëls wat dit op sy inwoners afdwing, weerspreek.”

Luidens die ultimatum wat nou aan die metro gestel is, sal die burgerregteorganisasie alternatiewe oplossings ondersoek indien die metro versuim om binne twee werksdae die lekkasie te herstel. Die moontlikheid vir AfriForum om self die omvangryke herstelwerk aan die lekkasie en die padoppervlak te doen, ten einde verdere skade aan die pad te voorkom, frustrasie vir die gemeenskap te beperk en die risiko’s vir motoriste te verminder, sal onder meer oorweeg word.

“Hierdie voorval beklemtoon die groter, sistemiese probleme binne die Tshwane-metro. Ons doen daarom ’n beroep op die metro om ’n meer oop, inklusiewe en proaktiewe benadering te volg en die privaat sektor en burgerlike organisasies soos AfriForum te betrek om die ernstige agterstand in infrastruktuurherstelwerk die hoof te bied. Deur middel van ’n nouer vennootskap met die privaat sektor en burgerlike samelewing kan ’n innoverende benadering tot instandhouding van waterpypleidings, substasies, kragnetwerke, paaie en verskeie ander tipes infrastruktuur in die belang van die metro se inwoners gevolg word,” sluit Roodt af.

AfriForum sal intussen die situasie in Rossouwstraat in oorleg met die plaaslike wyksraadslid monitor om toe te sien dat inwoners se regte te beskerm word en belastinggeld in dié metro doeltreffend en verantwoordelik aangewend word.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum en help om ’n verskil te maak in jou onmiddellike omgewing. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings