AfriForum-skenking van bykans 200 vullisdromme help Clanwilliam skoon te hou
AfriForum se Cederberg-tak het dit op homself geneem om Clanwilliam en omliggende dorpe rommelvry te kry deur die aankoop en oprigting van 198 vullisdromme. Met behulp van verskeie organisasies, ondernemings en selfs die Cederberg Plaaslike Munisipaliteit, is 32 van dié vullisdromme reeds strategies oor die dorp heen opgerig. Die tak is tans besig om ’n verdere 42 dromme op te rig. Talle dromme gaan ook nog in Graafwater en Citrusdal opgerig word.
Johan Smit, voorsitter van AfriForum se Cederberg-tak, sê elkeen doen sy deel om seker te maak dat AfriForum se pogings om Clanwilliam en omliggende dorpe skoon en netjies te hou, ’n sukses is. Die tak het die plaaslike munisipaliteit genader oor die projek. Die munisipaliteit is in die proses om ’n behoefte bepaling te doen sodat die tak kan weet waar al hierdie dromme die nodigste is.
Die Clanwilliam-sakekamer het intussen hierdie AfriForum-projek ondersteun deur ’n skenking van R4 000 te maak. Hiermee saam het Barry Grove en sy span van Clanwilliam Clean Up ook gehelp om sommige van die dromme te installeer. Die sakekamer se skenking het ’n deel van die kostes verbonde aan Clanwilliam Clean Up se arbeid, gedek.
Die tak het danksy Kaap Agri, wat die pale en ander gereedskap teen ’n bekostigbare prys verkoop het, al die dromme bekom en aanmekaar gesit. Ses van die 198 dromme is deur Trekkers en Meer geskenk. Elke drom bevat ook ’n plakker met ’n oproep om ’n verskil in die gemeenskap te maak.
“Die afwesigheid van vuilgoeddromme langs die strate en openbare ruimtes het bygedra tot die dorp se agteruitgang. Die dorp het gedurig vuil en onversorg voorgekom. AfriForum fokus egter op selfdoenaksies en dit het die Cederberg-tak geïnspireer om hierdie projek aan te pak,” sê Smit.
Dié AfriForum-tak het verlede jaar ’n soortgelyke projek in Lambertsbaai aangepak waar 54 dromme opgerig is. Deur hierdie inisiatief het die tak daarin geslaag om die dorp skoon te kry, wat selfs toerisme in die gebied verbeter het. Hannes Coetzee, inwoner van Lambertsbaai en bestuurslid van die tak, span steeds elke Maandag ’n groep in om ’n 2 km strook aan die kus skoon te maak en vullis op te tel. Parke en gemeenskaplike braaiplekke word ook weekliks skoongemaak.
Dit is gemeenskappe se verantwoordelikheid om hul omgewing skoon en netjies te hou. Saam met AfriForum kan die droom vir ’n vry, veilige en voorspoedige Suid-Afrika verwesenlik word. Skakel Smit by 083 4990 816 of stuur ’n e-pos aan voorsitter.cederberg@afriforumtak.co.za om ’n verskil in hierdie gemeenskap te maak.

