AfriForum skenk ‘wapens’ aan Polisieminister se lyfwagte
Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)
AfriForum het vandag ’n stel waterpistole, wat geoormerk is vir die lyfwagte van die minister van Polisie, Senzu Mchunu, by dié departement se hoofkantoor in Pretoria oorhandig. Dié “wapens” is oorhandig in protes teen die voorgestelde wysigings aan regulasies wat die privaat veiligheidsektor vir alle praktiese doeleindes sal ontwapen. AfriForum het ook ’n brief, waarin die organisasie se teenkanting teen die voorgestelde wysigings aan regulasies ingevolge die Wet op die Regulering van die Privaat Sekuriteitsbedryf (Psira) uiteengesit is, aan Mchunu se kantoor oorhandig.
AfriForum voer met dié protesaksie aan dat indien Mchunu die aanpassings van dié regulasies steun, en dit derhalwe vir privaat sekuriteitsbeamptes feitlik onmoontlik maak om hulself en ander te beskerm, dit net billik sal wees vir sy eie lyfwagte om oneffektiewe wapens, soos watergewere, te dra.
“Dis is verregaande dat die regering op privaat sekuriteit moet staatmaak om geboue – en in sekere gevalle selfs polisiestasies – te bewaak, terwyl regulasies wat die einste industrie magteloos sal laat, terselfdertyd deurgedruk wil word,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
Die voorgestelde wysigings is op 28 Maart Staatskoerant gepubliseer en het reeds kritiek uit verskeie oorde in die sekuriteitsbedryf ontlok. AfriForum hou vol dat die voorgestelde veranderings die bedryf sal kniehalter, duisende werksgeleenthede in gedrang sal bring en miljoene van die land se inwoners sonder betroubare beskerming laat.
AfriForum het intussen verlede week ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gerig om te bepaal hoeveel polisiestasies van privaat sekuriteitsdienste gebruik maak vir die beskerming van hul persele. Luidens mediaberigte is daar etlike voorbeelde van gevalle waar privaat sekuriteitsmaatskappye, weens ’n tekort aan polisielede en ander hulpbronne, gekontrakteer word om selfs die mees basiese take (soos toegangsbeheer) te verrig.
Die burgerregteorganisasie meen die aandag behoort gevestig te word op die volgende kommerwekkende aspekte van die voorgestelde regulasies:
- Ontwapening op grond van verdenking: Sekuriteitsmaatskappye kan verbied word om vuurwapens aan hul beamptes uit te reik as die maatskappy bloot ondersoek word, ongeag of enige klagtes gelê is.
- Verbod op vuurwapens in openbare ruimtes: Gewapende beamptes kan verbied word om vuurwapens in openbare ruimtes soos winkelsentrums, skole of kerke te dra.
- Onduidelike beperkings op ammunisie: Aangesien daar nie duidelikheid is oor wat die voorgestelde perk vir ’n “redelike” hoeveelheid ammunisie is nie, kan dit ernstige regsimplikasies tot gevolg hê en onsekerheid inhou.
- Onhaalbare vereistes vir die nasporing van vuurwapens: Die voorvereiste dat elke vuurwapen toegerus moet wees met ’n opsporingstoestel is, met die huidige beskikbare tegnologie, onprakties.
- Verbod op minder dodelike toestelle: Die verbod op die gebruik van rubberkoeëls, skokstokke en waterkanonne skakel die gebruik van kritieke hulpmiddele in die hantering van gewelddadige onluste uit.
“In ’n land wat oorweldig is deur geweldsmisdaad en die SAPD ooreis word en ernstige hulpbrontekorte het, speel privaat sekuriteit ’n kritieke rol in die beskerming van gemeenskappe. Om hierdie sektor onder die dekmantel van regulasies te ontwapen, is nie net irrasioneel nie – dit is gevaarlik,” sluit Broodryk af.
AfriForum moedig die publiek aan om die organisasie se veldtog teen die implementering van dié roekelose regulasies te ondersteun. Die spertyd vir openbare kommentaar is 25 April 2025. Sluit aan by die stryd. Voeg jou naam hier by en beskerm ons beskermers.


Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum