|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Mayville

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 15 April in samewerking met Helpende Hand se Pretoria-streek by die Laerskool Mayville in Pretoria besoek afgelê en 810 leerders bereik. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Ek raai kinders aan om nie toe te laat dat boeliegedrag broeiplek in hul lewens kry nie. Hoe langer ’n boelie aanhou afknou, hoe sterker sal sy houvas op ’n slagoffer word. Daarom moet kinders bewus wees van hoe boeliegedrag begin en hoe dit lyk, klink of voel. As hulle kan leer om dit raak te sien en met selfvertroue daarteen kan optree, sal hulle paraat kan wees en met die nodige tegnieke dié gedrag vroegtydig in die kiem smoor,” sê Tania Scheepers, AfriForum se noordstreekkoördineerder vir Onderwys en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies.

“By Laerskool Mayville glo ons dat respek, empatie en veiligheid vir elke leerder ’n prioriteit is. Boeliebewusmaking is belangrik omdat dit leerders help om die negatiewe gevolge van boelie te verstaan en om ander met empatie en vriendelikheid te behandel. Deur hierdie bewustheid te bevorder, skep ons ’n veilige en ondersteunende leeromgewing waar elke leerder welkom en gewaardeer voel. Ons bou aan ’n skool waar almal hul plek het – veilig, gerespekteer en gesien,” sê Anel Roets, Laerskool Mayville se departementshoof vir die intermediêre fase.

“Boelie is ’n tendens wat oor die jare heen spoedig toegeneem het. Die behoefte klop toenemend op verskillende terreine aan die deur vir die nodige hulp. Ons ag dit as uiters belangrik dat skole en ander belanghebbendes by die regte ‘hulp-deur’, soos AfriForum se teenboelieprogram, uitkom,” sê Bianca Steyn, maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand se Pretoria-streek.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings