|

AfriForum se stryd teen Mogale City se belaglike kragtariewe duur voort in Hooggeregshof

Die hofstryd tussen AfriForum en die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se buitensporige verhoging in elektrisiteitstariewe wat middel laasjaar ingestel is, sal verder in die Pretoriase Hooggeregshof met ’n volbank regters aangehoor word. In die eerste hofuitspraak in Februarie het die hof in die munisipaliteit se guns beslis en bevind dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) as ’n party tot die saak gevoeg word en AfriForum se aansoek – om ’n hofuitspraak wat die implementering van ’n nuwe kragtariefstruktuur vir Mogale City goedkeur, om te keer – van die hand gewys. AfriForum het ’n aansoek om verlof tot appèl teen hierdie uitspraak gebring maar die hof het die aansoek weereens van die hand gewys. AfriForum het daarna die Hoogste Hof van Appèl genader vir direkte toegang sodat die saak verder aangehoor kan word, waarna die aansoek om verlof tot appèl op 30 Junie toegestaan is.

Die aansoek het oorspronklik gevra dat die saak in die Hoogste Hof van Appèl aangehoor word. Hoewel die appèl toegestaan is, sal dit in die Hooggeregshof aangehoor word.

Die saak spruit voort uit die munisipaliteit se eensydige besluit om stygende bloktariewe vir die 2024/2025 finansiële jaar te implementeer. Dit is gedoen sonder om die publiek die geleentheid te gun om hierdie nuwe tariefstruktuur by die jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) se openbare verhore te betwis. Die munisipaliteit het in die verlede ’n vaste tariefstruktuur toegepas en tydens verlede jaar se openbare verhore bloot ’n 12,7%-verhoging aangekondig en nooit die instelling van die stygende bloktariefstruktuur genoem nie. Met hierdie struktuur het tariewe op sekere gebruiksvlakke tot byna 30% gestyg.

“Alhoewel hierdie hofsaak reeds vir etlike maande voortsleep, bly dit vir AfriForum ’n belangrike beginsel om in die howe te vestig. Dit kan onder geen omstandighede toegelaat word dat munisipaliteite wanvoorstellings tydens openbare verhore maak en daarna agter toe deure in raadsvergaderings iets heeltemal anders implementeer nie,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Die implementering van hierdie tariefstruktuur het enorme finansiële druk op inwoners en plaaslike ondernemings geplaas. Dit is onaanvaarbaar dat verbruikers onregmatig belas word met tariewe wat nie eens aan wetlike riglyne voldoen nie.”

In die eerste hofverskyning het AfriForum duidelike getuienis gegee aan die hof, wat eedsverklarings insluit van inwoners wat bevestig het dat die munisipaliteit nie die nuwe tariefstruktuur gekommunikeer het tydens gemeenskapsvergaderings nie. AfriForum het nog verder gegaan en bewyse van die munisipaliteit se PowerPoint-voorlegging tydens die vergaderings, wat slegs ’n 12,7%-verhoging aanvoer en weereens niks deurgee oor ’n verandering van tariefstruktuur nie.

Die munisipaliteit se regspan kon geen bewyse lewer dat die munisipaliteit hierdie verandering van tariefstruktuur (en die effek daarvan) gekommunikeer het nie.

Die munisipaliteit het slegs aangevoer dat NERSA hul tariewe en die nuwe tariefstruktuur goedgekeur het, daarom kon hulle voortgaan om ander tariewe as dít wat aan die publiek voorgelê is, te implementeer. “Hierdie argument maak dit amper erger – dit beteken dat die munisipaliteit aansoek gedoen het vir ’n nuwe tariefstruktuur, reeds die syfers daarvan bymekaar gehad het maar gekies het om vir die gemeenskap te jok en iets ander voor te lê,” sê Steffens.

Die munisipaliteit se regspan het ook geargumenteer dat die saak nie verder aangehoor kan word nie omdat NERSA ’n belang in die saak het en nie by die oorspronklike aansoek as respondent gevoeg is nie.

“AfriForum is van mening dat NERSA nie ’n direkte belang in die saak het nie en dat NERSA se belange nie benadeel sou word, indien die hof in AfriForum se guns sou beslis nie. Daarom gaan ons voort om teen die uitspraak te appelleer,” sluit Steffens af.

AfriForum sal voortgaan om gemeenskappe teen munisipaliteite, wat besluite maak wat gemeenskappe negatief beïnvloed, se boeliegedrag te beskerm.

Soortgelyke plasings