AfriForum se Pretoria-buurtwagte waak oor substasie tydens massapatrollie
Die AfriForum-buurtwagte in Pretoria het op 11 en 12 April in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF), gemeenskapslede en verskeie sekuriteitsmaatskappye aan AfriForum se nasionale massapatrollie deelgeneem. Hierdie patrollie het van 16:00 tot 06:00 geduur, waartydens die buurtwagte gehelp het om vier insidente te hanteer. AfriForum se Centurion-buurtwag het onder meer die SAPD en GPF gehelp om ’n protesaksie by die Brakfontein-substasie onder beheer te bring.
Altesaam 82 AfriForum-patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en deur die aand 2 264km in 70 voertuie afgelê. Die doel van hierdie patrollies is om sigbaarheid te verhoog in die woonbuurte van Pretoria en sodoende misdaad teen te werk.
“Die Noordstreek-buurtwagte is altyd ywerig om aan die nasionale patrollie deel te neem. Dit is prysenswaardig dat hierdie patrolleerders so gereeld bereid is om tyd af te staan om na die veiligheid van hul onderskeie gemeenskappe om te sien. Die verhoogde sigbaarheid in woongebiede speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se hoof van die Noordstreek.
AfriForum wil graag elke buurtwaglid en rolspeler wat aan die patrollie deelgeneem het, bedank vir hulle bereidwilligheid om hul tyd selfs op ’n Vrydagaand op te offer om hul gemeenskappe te dien.
Raak vandag nóg by AfriForum se buurtwagte betrokke om jóú omgewing te beveilig. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.