|

Basta met verval! AfriForum se Bethlehem-buurtspan pak probleme kaalvuis aan

Deur Ilze Nieuwoudt

Bethlehem, die munisipale hoofsetel van die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit, is geleë in die bergagtige noordoostelike Vrystaat en lê knus teen die Malutiberge. Die streek – en veral die dorpie Clarens – is ’n gewilde toeristebestemming, en die permanente tuiste van nagenoeg 130 000 mense, terwyl Bethlehem en die aangrensende Bohlokong volgens Statistiek Suid-Afrika sowat 51 000 inwoners het. Die plattelandse stad is ’n kritieke ekonomiese, handels- en landbousentrum vir die streek. Die munisipale uitdagings is egter omvangryk.

In 2024 het die onafhanklike bestuursnavorsingsorganisasie Good Governance Africa se regeringsprestasie-indeks (bekend as die Governance Performance Index, GPI) die Dihlabeng-munisipaliteit in die 17de plek uit 18 Vrystaatse plaaslike munisipaliteite gelys. In dieselfde indeks is dié munisipaliteit die 183ste plek uit 205 plaaslike munisipaliteite landwyd geplaas. Hierdie indeks meet munisipaliteite se prestasie ten opsigte van administrasie en regering; leierskap en bestuur; monitering en evaluasie; beplanning; en dienslewering en toon duidelik dat die Dihlabeng-munisipaliteit ver tekortskiet.

Probleme soos onwettige rommelstorting, betroubare watervoorsiening en swak instandhouding van die padinfrastruktuur en openbare ruimtes soos parke en sypaadjies is maar enkele van die sigbare probleme wat veral Bethlehem teister.

In reaksie op dié verval weens swak munisipale bestuur takel AfriForum se Bethlehem-tak reeds jare lank verskeie opheffingsprojekte. Die totstandkoming van die tak se eie buurtspan in 2022 met voltydse werkers wat daagliks opknappingsprojekte takel, was daarom die logiese volgende stap.

Volgens Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland-gebied, spits dié span reeds sedert sy ontstaan hom veral toe op die herstel van slaggate in en om Bethlehem en het in die afgelope vier jaar nagenoeg 136 ton teer gebruik om slaggate mee te vul. Dié projek duur steeds voort en fokus vanjaar veral op die opknapping van paaie rondom plaaslike skole.

Die span se werk strek egter veel wyer as net die herstel van slaggate. Die span vul telkens gate wat bloot oopgelaat word ná die munisipaliteit waterlekkasies in die pypnetwerk herstel het. In die wintermaande word stormwaterdreine skoongemaak om oorstromings te voorkom en vullis word deurlopend in veral die sakesentrum opgeruim. Die span is boonop ook opgelei en toegerus om brandbestryding te doen.

“Die Bethlehem-buurtspan bied as’t ware ’n eenstopdiens aan die gemeenskap as teenvoeter vir verval. Daar waar infrastruktuur verval, munisipale dienste agteruitgaan en uiteindelik inwoners se veiligheid of gesondheid bedreig, tree die Bethlehem-buurtspan in en pak die verval kaalvuis aan in die belang van elke inwoner,” sluit Ikking af.

Harde werk en lang ure – maar tonne sukses

Die ure wat die Bethlehem-buurtspan insit, is lank en die werk is taai, maar die smaak van sukses ná die afhandeling van elke projek is soeter as soet. Die syfers rakende enkele projekte wat dié span al kafgedraf het, spreek vanself:

  • Slaggate herstel: In die afgelope vier jaar is nagenoeg 136 ton teer gebruik om slaggate in en om Bethlehem te herstel.
  • Gras gesny: Sedert 2023 is nagenoeg 80 600m² se gras gesny.  
  • Vullisverwydering: Sedert die begin van die jaar is nagenoeg 8 ton vullis by huise in die dorp en plaaslike ondernemings verwyder, terwyl daar ook weekliks vullis langs die R26 opgetel word.
  • Stoptekens en padmerkers: Die span het onlangs nuwe stoptekens opgerig en voetoorgange en stoptekenmerkers oorgeverf op paaie by die Maluti Hoogland Skool en in Panorama.

Die man agter die Bethlehem-buurtspan se sukses

Inwoners kan gerus op die uitkyk wees vir die man aan die stuur van AfriForum se Bethlehem-buurtspan. Daar waar die Bethlehem-buurtspanbakkie is, kan inwoners maar seker wees dat dié span se voorman, Donavon Fortuin, in die omtrek is en besig is om ’n verskil te maak. Ikking bestempel hom as ’n ware staatmaker: “Geen werk is vir hom te groot of te klein nie en hy sit sy hart en siel in sy werk en verrig elke iedere taak met trots.”

Bespreek ’n buurtspan

Die Bethlehem-gemeenskap kan nou ook van dié plaaslike buurtspan se dienste gebruik maak. Het jy ’n oop erf wat dringend skoon gesny moet word? Ruk die vullis op jou sypaadjie handuit? Gee die slaggate in die dorp jou hoofbrekens? Of is jy raadop met onbetroubare munisipale vullisverwydering? AfriForum se buurtspan het die antwoord! Kontak AfriForum se Bethlehem-buurtspan (066 486 7612) dan vandag nog vir ’n kwotasie of met ’n wenk.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf