AfriForum se Bloem-buurtwagte bemoedig jong kankervegtertjies
Die AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het op 15 Februarie saam met die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), ambulansdienste, privaat brandweerdienste, soek-en-reddingsdienste en sekuriteitsmaatskappye ’n magsvertoning georganiseer vir kinders wat moedig teen kanker veg by die Universitas Akademiese Hospitaal.
Tydens hierdie geleentheid het die verskeie rolspelers teddiebere uitgedeel vir die kinders en ook nie-bederfbare produkte by die Choc Huis oorhandig vir die gesinne van kinders wat aan kanker ly.
“Hierdie tipe aksies bring ook vir die kinders hoop, hulle weet dat ons aan hulle dink terwyl hulle hierdie moeilike stryd stry. Hulle veg elke liewe dag teen hierdie siekte en die minste wat ons kan doen is om hulle bietjie te bederf en te bemoedig. Ons wil ook graag die personeel bedank wat elke dag saam met hierdie klein vegtertjies die stryd aandurf,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte en hul vennote het hul ondersteuning aan die kinders en hul gesinne gebring as deel van die organisasie se volgehoue poging om die gemeenskap te ondersteun en ’n verskil te maak in die lewens van dié wat die grootste stryd van hul lewe voer.