|

AfriForum ploeg voort aan herstelwerk by gevaarlike Sedgefield-kruising

AfriForum se Knysna-tak het op 16 Augustus verdere herstelwerk aan die gevaarlike kruising van Volstruisweg en Quailstraat in Sedgefield uitgevoer. Dié keer is nóg ses ton teer aangewend om die reuseslaggate te vul. Vrywilligers van die Knysna-tak, Cape Island Construction en B&V Contractors het die los gruis, wat die Knysna Plaaslike Munisipaliteit voorheen in die gate gegooi het as ’n halfhartige poging om die gate te vul, verwyder. Die gate is daarna met ’n bindmiddel geseël, met teer gevul en toe gekompakteer.  Daar is nog een groot gat in die kruising wat herstel moet word.

In plaas daarvan om gemeenskapsinisiatiewe soos hierdie te steun, het die munisipaliteit AfriForum ná die vorige herstelwerk aan die kruising op 2 Augustus – toe daar met dié projek begin is – van onwettige optrede beskuldig. AfriForum beskou egter dié aanval as onbillik omdat die munisipaliteit versuim om op te tree teen werklike onwettighede, soos die onwettige grondbesettings in Karatara en Sedgefield, rondloperdiere (hoofsaaklik beeste en bokke) wat ’n gevaar vir motoriste inhou en die aanhoudende rioolbesoedeling van Knysna en Sedgefield se mere. Hierdie lewensgevaarlike kwessies word eenvoudig toegelaat om voort te bestaan, maar positiewe optrede wat bydra tot die veiligheid van die gemeenskap word as onwettig bestempel. Terwyl AfriForum in dié gevalle al oplossings en voorstelle ter tafel gelê het, sit die munisipaliteit agteroor en maak ongegronde beskuldigings.

“Dit is baie duidelik dat daar ’n onwilligheid van die munisipaliteit is om te erken dat hulle die probleme in Knysna nie alleen kan takel nie,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap. “AfriForum bring oplossings – ons kla nie net nie, maar die munisipaliteit sal eerder vinger wys. Die munisipaliteit moet hulle trots in hul sak steek en erken dat hulle nie in staat is om die probleme in Sedgefield self op te los nie en die gemeenskap se hulp benodig.”

AfriForum se werksaamhede ontneem nie die munisipaliteit van hul verantwoordelikheid nie, maar beklemtoon eerder dat gemeenskappe selfs in die Wes-Kaap moet wakker skrik en besef hulle kan nie langer alleenlik van die regering afhanklik wees nie, hetsy nasionaal of plaaslik. 

“Ons veg teen mislukte strukture deur wanfunksionering uit te wys en owerhede tot verantwoording te roep, maar ons bou terselfdertyd werkbare alternatiewe,” sê Erasmus.

Die Knysna-tak gaan aanhou om volhoubare oplossings vir plaaslike probleme te bied. Elke aksie is ’n boodskap: Gemeenskappe kán en sál opstaan wanneer amptelike strukture faal. Help AfriForum se Knysna-tak om die herstelwerk aan die kruising te voltooi deur aan te sluit: Klik hier of kontak Erasmus by 081 216 9602 of marthinus.erasmus@afriforum.co.za  vir meer inligting.

Soortgelyke plasings