AfriForum-plaas- en buurtwag vind voertuig wat voor polisiestasie gesteel is
Selfs voertuie wat voor ’n polisiestasie parkeer is, is nie gewaarborg om uit misdadigers se visier te bly nie. Dít is onlangs bewys nadat ’n vragmotor wat in die straat buite die Kariega (voorheen bekend as Uitenhage) -polisiestasie gestaan het, gesteel is. Danksy AfriForum se Winterberg-plaaswag en Walker Drive-buurtwag se vinnige reaksie kon hulle die vragmotor terugkry. Een van die verdagtes is ook met behulp van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vasgetrek.
Die vragmotor is Sondag (31 Maart) helder oordag (om 13:00) in Kerkstraat gesteel. Die vermeende motordiewe is met behulp van die vragmotor se ingeboude opsporingstelsel opgespoor en die hulp van AfriForum se veiligheidstrukture is ingeroep om hulle agterna te sit. Die Walker Drive-buurtwag het een van sy hommeltuie ingespan om die gesteelde vragmotor dop te hou. Twee verdagtes het egter met die Winterberg-plaaswag en die SAPD se aankoms op die toneel uit die gesteelde vragmotor gespring en te voet die bosse in verdwyn. Beide verdagtes het die wetstoepassers ontduik.
Die bestuurder van ’n aparte motor, wat vermoedelik met die vermeende motordiewe verbind word, het ook te voet op die vlug geslaan. Die buurt- en plaaswag het in samewerking met die polisie daarin geslaag om dié verdagte vas te trek. Die verdagte is aan die polisie oorhandig, en die motordiefstalvoorval word verder ondersoek.
Darius Stumke, leier van AfriForum se Winterberg-plaaswag, sê die voorval is ’n bewys dat doelgerigte samewerking tussen die polisie en AfriForum se plaas- en buurtwagte van kardinale belang is om misdaad in die gebied te bekamp.
“Hierdie voorval stuur ’n duidelike boodskap aan misdadigers: Misdaad word nie in dié gemeenskap geduld nie. Die gemeenskap van Kariega en sy plaas- en buurtwagte is waaksaam en sal onverpoos werk om te verseker dat misdadigers gevang en voor die hof gebring word,” sê Stumke.
AfriForum se buurtwagte is ’n noodsaaklike deel van gemeenskappe se veiligheid, aangesien hulle bykomende beskerming en ondersteuning bied aan die polisie wat dikwels beperkte hulpbronne het. AfriForum se buurtwagte bestaan uit vrywilligers wat toegewyd is om hul gemeenskappe vry en veiliger te maak.
“Die voorval dien as ’n herinnering dat ons almal ’n rol het om te speel om ons gemeenskappe veilig te hou,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.
Sluit vandag by jou plaaslike AfriForum-buurtwag aan. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.