AfriForum-patrollie in Philippi skrik misdadigers af
AfriForum se Kaapstad Noord-buurtwagte het Vrydagaand 20 Junie aan die organisasie se landwye massapatrollie in Philippi deelgeneem. Hierdie koördineerde misdaadvoorkomingsinisiatief is in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitgevoer en het verskeie padblokkades ingesluit. Geen voorvalle is gedurende die patrollie aangemeld nie, wat die doeltreffendheid daarvan beklemtoon in die geveg teen misdaad.
Die samewerking met die SAPD volg nadat AfriForum vroeër vandeesmaand (11 Junie) ’n brief aan die bevelvoerder van die Philippi-polisiestasie gestuur het waarin dringende versoeke gerig is vir verbeterde reaksietye, samewerking en die prioritisering van buurtwag-insette. AfriForum doen onder meer ’n beroep op die SAPD in Philippi om ’n omvattende aksieplan te ontwikkel om die toenemende misdaad in die gebied aan te pak, met spesifieke maatreëls om polisiëring in landelike gebiede te verbeter waar boere en inwoners die kwesbaarste is.
Patrollies is veral van kardinale belang binne die konteks van die kommerwekkende misdaadvlakke in die Philippi-plaasgemeenskap. In gebiede soos Samora Machel is skietvoorvalle ’n alledaagse verskynsel. Verder is die afpersing van plaaslike ondernemings in Brown’s Farm ’n daaglikse realiteit waar afpersers sogenaamde beskermingsgeld van ondernemings of sy werknemers eis.
“AfriForum bedank die SAPD vir hul samewerking tydens die patrollie nie, maar ook elke buurtwagvrywilliger wat hul tyd en energie gegee het om Philippi ’n veiliger plek te maak. Hierdie massa-patrollie stuur ’n duidelike boodskap: Ons staan saam teen misdaad en vir voedselsekerheid in Kaapstad,” sê Jurie Ferreira, Gemeenskapskoördineerder vir AfriForum se Weskus-streek
AfriForum se Philippi-buurtwag bly daagliks aktief betrokke en poog om voortdurend saam met die SAPD, plaaslike veiligheidstrukture en inwoners te werk, om ’n veilige omgewing te verseker. AfriForum doen ’n beroep op inwoners om betrokke te raak. Veiligheid is nie net die verantwoordelikheid van wetstoepassers nie – dit begin by elkeen van ons.
Raak vandag nog betrokke by jou naaste AfriForum-tak. Besoek Sluit-aan.afriforum.co.za vir meer inligting.