AfriForum pak padveiligheid – en meer – in Thabazimbi aan
AfriForum se Thabazimbi-tak het onlangs verskeie infrastruktuur- en veiligheidprojekte van stapel gestuur nadat ’n samewerkingsooreenkoms met die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit gesluit is. Hierdie projekte dra daadwerklik by tot beter dienslewering en veiligheid in die dorp.
Een van die eerste projekte wat in die lig van die ooreenkoms aangepak is, is die spoedhobbels wat in Hibiscus- en Hammerkopstraat aangebring is. Albei dié strate is al lank ’n bekommernis vir inwoners, omdat motoriste daar jaag. “Met hierdie spoedhobbels poog ons om verkeersveiligheid in ons woonbuurte te verbeter en ’n veiliger omgewing vir kinders, voetgangers en ander padgebruikers te verseker,” sê Barry Knubbe, ondervoorsitter van AfriForum se Thabazimbi-tak.
Die tak het ook slaggate in Judithstraat herstel. Hierdie aksie is moontlik gemaak deur gemeenskapslede wat toerusting, materiale en hul tyd beskikbaar gestel het.
Verder is daar ’n skoonmaakprojek by die reservoirs uitgevoer waar ’n bos, wat die krane toegegroei het, gesnoei is. ’n Hoë-resolusie sekuriteitskamera is ook op die perseel geïnstalleer, wat Zimbi-sekuriteit 24/7 sal moniteer. “Ons wil voorkomend optree teen enige moontlike sabotasie aan kritieke infrastruktuur en met die ondersteuning van ’n betroubare sekuriteitsdiens kan ons dit nou doen,” sê Barry Knubbe. Die tak het ook gras gesny en rommel opgetel in Jourdanstraat.
AfriForum se Thabazimbi-tak beoog om binnekort ’n buurtspan saam te stel, wat onder meer met skoonmaakprojekte en die instandhouding van infrastruktuur sal help. Die buurtspan sal ook fokusgebiede, in samewerking met AfriForum se Thabazimbi-takbestuur en die munisipaliteit, identifiseer.
“Wanneer gemeenskappe self verantwoordelikheid begin neem en strukture daarstel om dit volhoubaar te doen, sien ons werklike verandering. Hierdie ooreenkoms en die projekte wat reeds gevolg het, wys wat moontlik is as die gemeenskap betrokke raak,” sluit Barry Knubbe af.
AfriForum se Thabazimbi-tak het elke inwoner se inkoop nodig om ’n daadwerklike verskil te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.