AfriForum-noodwaterpunte vol en reg om gemeenskap te help terwyl amptenare vir hulself sorg
AfriForum se noodwaterpunte in Germiston en Benoni is beskikbaar om alle lede van die gemeenskap van water vir huishoudelike gebruik te voorsien tydens Rand Water se instandhoudingswerk in die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit. Dít terwyl die metro se nooddienste ontbied is om water aan die Germiston-raadsaal te verskaf.
Volgens AfriForum is dit ’n skreiende skande en ’n misbruik van hul magte dat die metro die belange van sy amptenare bo die belange van die gemeenskap in sy geheel stel. Hierdie optrede openbaar ’n skokkende minagting vir hul grondwetlike verpligting om billike basiese dienste aan alle inwoners te lewer.
Talle areas in die Ekurhuleni-metro is al vir vyf dae lank sonder water, skole en tehuise vir bejaardes word die ergste hierdeur geraak.
AfriForum het voorheen aan die metro geskryf en hulle gemaan om te sorg dat daar betroubare toegang tot water is tydens instandhoudingswerk, ’n versoek wat op dowe ore geval het.
“AfriForum sal aanhou om die gemeenskap te dien daar waar die metro faal. Die feit dat die metro skaamteloos gebruik maak van nooddienste vir hul eie gemak en gewin dui op ’n miskenning van die gemeenskap se behoeftes,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
“As die metro dan wel die nooddienste se waterbronne wil aanwend tydens hierdie tydperk wil ons hulle uitdaag om ons noodwaterpunte en ander soortgelyke waterpunte vol te maak ten einde die gemeenskap te kan dien in hierdie tyd.”
Gemeenskapslede kan AfriForum se takke kontak vir meer inligting oor die waterpunte:
Germiston: 072 432 1920
Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting oor hoe om by jou naaste AfriForum-tak betrokke te raak.