AfriForum neem voortou van kilometerlange konvooi om Oudtshoorn te beveilig
AfriForum se Oudtshoorn-tak het verlede week met groot sukses aan AfriForum se landswye massapatrollie deelgeneem. Die AfriForum-buurtwaglede was deel van ’n sowat 1 km lange konvooi, bestaande uit sekuriteitsdienste, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), plaaslike wetstoepassers en ander veiligheidsgroepe.
Die aand het met die konvooi begin, wat ’n roete van ongeveer 45 minute deur die dorp gevolg het, waarna buurtwaglede en sekuriteitsdienste in skofte deur die aand dele van Oudtshoorn gepatrolleer het. Altesaam 93 vrywilligers het in 44 voertuie saam ’n afstand van 792 km afgelê om die gebied te beveilig. Daar is op die aand nege insidente suksesvol hanteer.
AfriForum se Oudtshoorn-buurtwag het vroeër vanjaar weer aktief begin funksioneer en het sedertdien groot suksesse behaal om die dorp veiliger te maak. Die buurtwag bestaan uit sowat 70 toegewyde patrolleerders wat daagliks – soms meer as een keer per dag, en ook in die aand – patrollies ry. Die buurtwag het onlangs vyf inbrekers binne 24 uur aangekeer en het talle ander suksesverhale agter die rug. Lede speel ook ’n belangrike rol om Oudtshoorn se parke te beveilig en netjies te hou deur rommel op te tel en ongewenste gedrag aan te meld.
“Hierdie aksie is ’n bewys van wat moontlik is wanneer gemeenskappe, wetstoepassers en privaat sekuriteit saamwerk vir ’n gemeenskaplike doel – die veiligheid van ons mense. AfriForum bedank elke deelnemer wat betrokke was by dié samewerkende inisiatief om die dorp veiliger te maak,” sê kol. Christo Cloete, AfriForum se veiligheidsvoorsitter in Oudtshoorn, wat ook die patrollie georganiseer het.
AfriForum se Oudtshoorn-tak bedank veral brig. Avral Bernett Kriga van die SAPD en direkteur Ian Avontuur vir die samewerking wat die SAPD, die verkeerspolisie en die plaaslike brandweer gebied het. AfriForum bedank ook graag Oudtshoorn se voorste private sekuriteitsdienste – M Sec Security, Ubuntu Security Tactical Response, Suiderkruis Security en Blacklist Security Services – vir hul deelname en volgehoue patrollies in die gebied.
Hierdie massapatrollie is ’n trotse voorbeeld van gemeenskapsamewerking in aksie en ’n verdere bewys dat veiligheid suksesvol gehandhaaf kan word wanneer gemeenskappe betrokke raak.
Sluit vandag nog by die Oudtshoorn-tak aan en help hulle om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Marthinus Erasmus by 081 216 9602 vir meer inligting.



