|

AfriForum neem Mogale City hof toe oor elektrisiteitstariewe

AfriForum het ’n dringende hofaansoek teen die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit by die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ingedien oor die verhoging in elektrisiteitstariewe vir die 2024/2025 munisipale boekjaar.

Die saak, wat vir 28 Januarie 2025 op die rol geplaas, spruit voort uit die munisipaliteit se implementering van stygende bloktariewe sonder om hierdie nuwe tariefstruktuur aan die publiek te kommunikeer tydens die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) -inligtingstoere. Voorheen het die munisipaliteit ’n vaste tariefstruktuur toegepas. Tydens die inligtingstoere het die munisipaliteit bloot ’n 12,7%-verhoging gekommunikeer en nooit die instelling van die stygende bloktariefstruktuur genoem nie. Met die stygende bloktariefstruktuur kan tariewe op sekere gebruiksvlakke tot byna 30% styg. AfriForum voer aan dat hierdie gebrek aan deursigtigheid en die buitensporige verhogings regulatoriese en etiese standaarde oortree.

Ná die implementering van die nuwe tariefstruktuur is AfriForum deur talle lede gekontak wat skerp stygings in hul elektrisiteitsrekeninge aangemeld het. AfriForum het in samewerking met Krugersdorp Citizens Unite bewyse ingesamel wat die munisipaliteit se versuim om voldoende openbare deelname aan die nuwe tariefstruktuur te verseker, beklemtoon. Hierdie samewerking het die regsargument teen die munisipaliteit se gebrek aan deursigtigheid en prosedurele nakoming versterk.

AfriForum versoek die hof om die volgende te beveel:

  1. Dat alle besluite wat elektrisiteitstariefverhogings goedkeur wat dié in Bylae 3(a) oorskry, onwettig en ongeldig verklaar word.
  2. Dat die munisipaliteit verbied word om enige tarief anders as dié gespesifiseer in Bylae 3(a) te implementeer wat die 12.7% vaste tarief is wat tydens openbare konsultasievergaderings gekommunikeer is.
  3. Dat die munisipaliteit verplig word om verbruikers terug te betaal of te krediteer vir enige oortollige koste wat reeds gehef is.

Volgens AfriForum het die onwettige tariewe gelei tot buitensporige heffings vir inwoners en besighede in Mogale City, wat aansienlike finansiële druk op hulle plaas. “Dit is onaanvaarbaar dat verbruikers onregmatig belas word met tariewe wat nie aan wetlike riglyne voldoen nie,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikegeringsake.

Die respondente in die saak, wat die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit, sy raad en die uitvoerende burgemeester insluit, moet hul voorneme om die aansoek teen te staan teen 10 bekendmaak, en hul reaksie verklarings teen 17 Januarie 2025 indien.

“AfriForum is daartoe verbind om die belange van die gemeenskap te beskerm deur te verseker dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul optrede,” sê Mostert.

Soortgelyke plasings