AfriForum lei nuwe VOLK-instrukteurs in Natal op
AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid het die afgelope naweek buurtwaglede as Vrywillige Opleidingskorps (VOLK)-instrukteurs opgelei. Die kursus het in Durban plaasgevind en was daarop gemik om lede toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om vlak 1 opleiding in basiese veiligheidsmodules in hul gemeenskappe te kan aanbied. Aan die einde van hierdie kursus, is instrukteurs toegerus om buurtwag- en gemeenskapslede op te lei in regsaspekte, die hantering van patrollies en ongeluk- en misdaadtonele, en radiospraakprosedure.
Die nuutgekwalifiseerde instrukteurs is aktiewe lede van verskeie AfriForum-buurtwagte in Durban, Amanzimtoti en ander plaaslike buurtwagte aan die laer suidkus. Hierdie inisiatief is deel van AfriForum se breër doelwit om plaaslike veiligheidstrukture te bemagtig deur gespesialiseerde opleiding en gemeenskapsgedrewe kapasiteit uit te brei. Hierdie opleiding begin dan by vlak 1 lesings wat in gemeenskappe aangebied word om weerbaarheid te takel.
“Ons het verskeie instrukteurs per tak opgelei sodat hulle mekaar kan ondersteun tydens opleiding in hul gemeenskappe,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.
“Hierdie opleidingsprogram, wat in September 2022 van stapel gestuur is, het reeds talle suksesvolle sessies oor die land heen opgelewer,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid. “Dit vorm deel van AfriForum se voortgesette pogings om gemeenskappe te help om meer selfstandig en veerkragtig te word. Deur selfverdedigingsopleiding te prioritiseer, stel ons burgers in staat om proaktief op te tree om hul eie veiligheid te verbeter.”
Die kursus, wat deur AfriForum gefasiliteer word, kwalifiseer lede om as vrywillige instrukteurs in plaaslike AfriForum-buurtwagte te kan optree.