|

AfriForum kap oor geheime wysigings aan omgewingsimpakstudie in Krugerwildtuin-mynaansoek

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)

Soundbite: Lambert de Klerk (English)

AfriForum het ’n regsbrief aan die omgewingskonsultant Kimopax en die departement van Minerale Hulpbronne en Energie (DMRE) gestuur in reaksie op kommerwekkende onreëlmatighede in die omgewingsimpakstudieproses vir Tenbosch Mining se voorgestelde steenkoolmyn naby die suidelike grens van die Krugerwildtuin.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat ’n hersiene weergawe van die omgewingsimpakstudie, gedateer Maart 2025, glo ná die amptelike indieningsdatum in Februarie vanjaar ingedien is. Dit het sonder die wete van enige van die ander geregistreerde belanghebbendes en geaffekteerde partye (B&GP) plaasgevind. Nog meer kommerwekkend is dat ’n publieke vergadering na bewering op kort kennisgewing gehou is, met uitnodigings wat blykbaar slegs aan uitgekose individue en groepe gestuur is. Dit terwyl organisasies soos AfriForum, wat formeel as B&GP’s geregistreer is, geen kennisgewing of inligting daaroor ontvang het nie.

“Dit is prosedurele sabotasie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake. “’n Mens kan nie ’n publieke vergadering in die geheim bedryf, dokumente agter geslote deure hersien en dan slegs sekeres in kennis stel nie. Dit is onregmatig, oneties en oneerbiedig teenoor die burgerlike samelewing.”

AfriForum het die omgewingskonsultant se gedrag veroordeel as ’n growwe skending van die vereistes vir openbare deelname ingevolge:

  • regulasie 39 van die omgewingsimpakstudieregulasies, uitgevaardig kragtens die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema), wat volle en billike toegang tot alle konsep- en hersiene dokumente vereis;
  • artikel 2(4)(f)–(k) van Nema 107 van 1998, wat die reg van alle belanghebbende partye om betekenisvol aan omgewingsbesluite deel te neem, vaslê; en
  • die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA) 3 van 2000, wat onbillike en prosedureel onregverdige administratiewe prosesse verbied.

AfriForum se regsbrief beroep hom verder op onderskeidelik artikel 24 en 33 van die Grondwet en herinner die DMRE en Kimopax aan die publiek se reg op ’n omgewing wat nie skadelik is vir hul gesondheid of welstand nie én op billike administratiewe prosesse. Die brief doen verder ’n beroep op Kimopax en die departement om ’n verduideliking te bied oor die saak, dat die DMRE die omgewingsimpakstudie in sy huidige vorm verwerp, bekend maak of die Maart 2025-weergawe amptelik ontvang is en enige besluitneming opskort totdat wettige en deursigtige openbare deelname plaasgevind het. Die DMRE, as die bevoegde owerheid, het ’n grondwetlike en statutêre plig om te verseker dat omgewingsgoedkeurings prosedureel reg en wetlik voldoende is.

Die jongste weergawe van die omgewingsimpakstudie bevat glo wesenlike veranderinge wat nooit aan die publiek bekend gemaak is nie. Die versuim om hierdie hersienings bekend te maak, gekombineer met die laaste-minuut, skynbaar eksklusiewe deelnameproses, skets ’n duidelike prentjie van ’n proses wat gemanipuleer is om teenkanting te vermy.

“Die omgewingskonsultant tree nie onafhanklik op nie. Dit wil voorkom asof dit ’n gekoördineerde poging is om opponerende stemme uit te hou en hierdie steenkoolmyn onder die radar te vestig. AfriForum sal dit nie toelaat nie,” sê De Klerk.

Die burgerregteorganisasie berei intussen formele voorleggings voor en behou die reg om die geldigheid van hierdie proses in die hof te betwis indien die owerhede versuim om op te tree.

“Die omgewings- en prosedurele skade wat reeds deur hierdie aansoek veroorsaak is, moet nie toegelaat word om ’n presedent te skep vir toekomstige mynbou in sensitiewe ekologiese gebiede nie. Die publiek het die reg om gehoor te word, nie uitgesluit te word nie,” sluit De Klerk af.

AfriForum wag ook steeds op ’n formele reaksie van die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, dr. Dion George, oor die departement se amptelike standpunt rakende die Tenbosch-mynbou-aansoek en die omgewingskonsultant se optrede. As ’n belangrike belanghebbende wat verantwoordelik is vir die beskerming van die land se ekologiese erfenis, is die departement se stilswye in die lig van groeiende kontroversie beide kommerwekkend en onaanvaarbaar.

Soortgelyke plasings