|

AfriForum-insette op GOP: Instandhouding ’n móét in Phokwane-munisipaliteit

AfriForum, deur middel van sy Vaalharts-tak, het vandeesweek skriftelike kommentaar op die Phokwane Plaaslike Munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) vir die 2025/2026 finansiële jaar ingedien en voorstelle gemaak oor hoe dié munisipaliteit dienslewering op sy dorpe kan verbeter.

As ’n burgerregteorganisasie wat daartoe verbind is om die lewenskwaliteit en veiligheid van inwoners op Jan Kempdorp, Hartswater en Pampierstad te verbeter, het AfriForum aktief deelgeneem aan die openbare deelnameproses en die munisipaliteit aangemoedig om spesifieke uitdagings met betrekking tot instandhouding, dringend die hoof te bied.

Die burgerregteorganisasie het benadruk dat swak onderhoud een van die hoofredes vir die verval van die dorpe is en dat ingryping dringend nodig is om die situasie te beredder. AfriForum het ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om onder meer opgraderings en instandhouding aan die kraginfrastruktuur te doen, om sodoende betroubare kragtoevoer op die dorpe te verseker. Die herstel van slaggate, opgraderings aan die padoppervlak en die installering van behoorlike padtekens is ook van kardinale belang vir die veiligheid van motoriste.

AfriForum se insette op die GOP fokus verder op:

  • die ontwikkeling van ’n omvattende plan om die groei van informele nedersettings doeltreffend te bestuur;
  • die toekenning van fondse vir die uitbreiding, instandhouding en veiligheid van plaaslike begraafplase;
  • die opgradering van straatligte na sonkragaangedrewe ligte om openbare veiligheid te verbeter en koste te bespaar;
  • die versekering dat vullisterreine aan die wetlike standaarde vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen; en
  • die instandhouding en beveilig van parke, asook openbare ablusiegeriewe.

AfriForum het verder daarop gewys dat die munisipaliteit ook sy eie huis in orde moet kry en dat dit begin by die aanstelling van gekwalifiseerde munisipale personeel en deursigtige werwingsprosesse.Hiermee saam moetmunisipale werkers ook die nodige gereedskap hê om dienslewering behoorlik te kan lewer.Die burgerregteorganisasie het ook die munisipaliteit aangeraai om maatreëls in te stel om uitstaande munisipale skuld effektief te verhaal, terwyl  bewerings van wanbesteding, onregmatige tenderprosesse en korrupsie ondersoek word.

“AfriForum vertrou dat die munisipaliteit hierdie aanbevelings ernstig sal opneem en saam met burgerlike organisasies sal werk om hierdie dorpe te verbeter. AfriForum herbevestig sy toewyding om saam met die Phokwane-munisipaliteit te werk om volhoubare ontwikkeling, verbeterde dienslewering en gemeenskapswelstand te bevorder,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Soortgelyke plasings