AfriForum hou Krugersdorp skoon én veilig
Terwyl Mogale City Plaaslike Munisipaliteit op hul louere rus en hul verpligting teenoor die gemeenskap versaak tree AfriForum se Krugersdorp-tak in om ’n verskil te maak. Dié tak se buurtspan het behoorlik gewoeker in Maart om toe te sien dat dié dorp netjies bly.
Die buurtspan het gedurende Maart 30 sakke vol vullis opgetel, 50 sakke gras en byna 1 ha se gras gesny. Voorts het die tak ook 13 brandkrane getoets en gemerk.
Die Krugersdorp-buurtwag het ook nie gras onder hulle voete laat groei nie. Dié buurtwag het in Maart, tydens hulle patrollies, 3 182 km afgelê om die gemeenskap te beveilig. Die buurtwag het ook op verskeie geleenthede gehelp op tonele ná motorongelukke en het ook verskeie suksesvolle aksies saam met die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangepak.
Die buurtwag het onder meer gehelp tydens ’n SAPD-operasie waartydens verdagtes aangekeer is asook hulp ná daar by ’n onderneming ingebreek is. Die buurtwag het daarin geslaag om een van die verdagtes te arresteer en aan die polisie te oorhandig.
Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand het Mogale City-munisipaliteit se dienslewering aan die gemeenskap werklik agteruit gegaan en het dit juis die gemeenskap genoop om self sekere projekte in Krugersdorp aan te pak. “Dit het nodig geword dat gemeenskappe self verantwoordelikheid neem vir hulle omgewing, veiligheid en mede-gemeenskapslede. Dit is ook tyd dat Mogale City Plaaslike Munisipaliteit hul trots in hul sak steek en die verskeie aanbiedings om te help begin aanvaar. Ons wil nie hê ons dorp moet verder agteruit gaan nie en ons wil graag saam met die munisipaliteit werk om oplossings vir probleme in Krugersdorp te vind.”
Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Krugersdorp-tak. Besoek www.wordlid.co.za of stuur ’n e-pos na krugersdorp@afriforumtak.co.za.