AfriForum herstel paaie en maak Bethal mooi
AfriForum het in April verskeie projekte voltooi om Bethal op te knap, waaronder slaggat- en skoonmaakprojekte.
Die AfriForum-tak in Bethal het ’n slaggatprojek in Malherbe- en Kleijnhansstraat voltooi waartydens 230 sakke teer gebruik is. Die tak het ook slaggate in Buffel- en Kleijnhansstraat met doleriet gevul.
“Ons beplan verdere slaggatprojekte en hoop dat die gemeenskap met ons kan hande vat. Ons benodig donasies van teer om die verskil in die dorp groter te maak,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal tak.
Die tak se buurtspan het ook skoonmaakprojekte in die middedorp voortgesit. In Clerqstraat is die gras op die sypaadjies uitgekap, die lamppale en kragbokse is skoongemaak en die stoptekens is oorgeverf. Hierdie projek word tweeweekliks aangepak en word deur verskeie ondernemings ondersteun. Die span is tans nog besig in Du Plooy-straat in die middedorp. Die buurtspan het in April 12 vragte vullis uit die middedorp verwyder.
AfriForum se Bethal-tak het ook nog vullisdromme in die dorp, wat weekliks deur SkipGo gediens word, aangebring. Dit is een van die tak se volhoubare projekte op die dorp sedert 2019 en help ook verder om die rommelkrisis in die dorp op te klaar.
“Hierdie projek is besig om verdere momentum te kry. Klein verskille soos dié bring kleur na die dorp en mense kan sien ons gee werklik om vir die dorp. Die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit het inwoners in die steek gelaat maar ons sal nie,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.
Besoek www.wordlid.co.za om AfriForum te ondersteun.

