AfriForum herstel honderdduisend rand se slaggate in Thabazimbi in een maand
AfriForum se Thabazimbi-tak het in Mei slaggate ter waarde van meer as R100 000 in en om die dorp herstel. Tydens dié maand is altesaam 850 sakke teer van 25 kg elk gebruik om die paaie veiliger te maak.
Die koste van een sak teer beloop R118, wat die totale koste vir die teer op R100 300 bring. Die gemeenskap het hierdie fondse aan AfriForum beskikbaar gestel weens die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om die paaie te herstel. Hierdie ruim bydrae wys op die erns waarmee inwoners die verval van infrastruktuur ervaar.
Die herstelwerk is op verskeie kritieke punte in Thabazimbi aangepak. Die meeste sakke teer – 531 sakke – is in Warmbad-weg gebruik, gevolg deur 139 sakke teer in Chroom-rylaan in die industriële gebied. Vyftig sakke teer is in onderskeidelik Frikkie Meyer-straat en Spitskop-weg aangewend, terwyl 41 sakke in Michaelstraat gebruik is en 39 sakke by die kruising van Eland- en Rooibokstraat.
Hierdie projek word gedryf deur AfriForum-lede wat hul tyd en hulpbronne opoffer om ’n tasbare verskil te maak. Die organisasie gaan voort om die gemeenskap van Thabazimbi te dien ten spyte daarvan dat Gopolang Clement Letsoalo, die munisipale bestuurder, steeds geen gehoor gegee het aan ’n voorgestelde samewerkingsooreenkoms tussen AfriForum en die Thabazimbi-munisipaliteit nie.
“Ons kan nie langer terugsit en toekyk hoe ons dorp se paaie in slaggat-velde ontaard nie. Hierdie projek is ’n duidelike bewys dat die gemeenskap van Thabazimbi bereid is om selfdoen-oplossings te implementeer waar die staat misluk. Ons bly daartoe verbind om ons dorp te herbou – met of sonder die munisipaliteit se samewerking. Ons deur bly egter oop vir samewerking, maar dienslewering aan ons mense sal intussen voortgaan,” sê Barry Knuppe, ondervoorsitter van die AfriForum-tak in Thabazimbi.
AfriForum se Thabazimbi-tak het elke inwoner se inkoop nodig om ’n daadwerklike verskil te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.