AfriForum herstel 121 slaggate ná Ekurhuleni-metro versoeke ignoreer
AfriForum se takke aan die Oos-Rand het sedert begin Mei tot 7 Junie altesaam 273 sakke teer (6 800 kg) gebruik om 121 slaggate in Alberton, Benoni, Edenvale, Kempton Park en Germiston te herstel. Die takke het dus bykans R26 000 spandeer om slaggate te herstel. Dit volg nadat AfriForum steeds geen terugvoer of plan van aksie van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit ontvang het op die lys van slaggate in die gebied wat herstel moet word nie. Die organisasie het dié lys, wat minstens 200 Oos-Rand-inwoners onderteken het, in Februarie per e-pos aan die metro gestuur én weer in Mei.
Die takke het besluit om self verantwoordelikheid te neem en dienslewering aan die gemeenskap te verseker waar die munisipaliteit tekortskiet. Die herstel van die slaggate bring nie net sigbare verligting aan vervalle infrastruktuur nie, maar bou ook ’n kultuur van selfstandigheid en gemeenskapsamewerking.
’n Totaal van 60 slaggate is in Benoni op die hoek van Mowbraylaan en Russelstraat, Goudstraat, Vyfdelaan en Great North-weg herstel. ’n Verdere 22 slaggate is op die hoek van Pine- en Stokroosstraat, Sewendestraat by die Laerskool Northmead en Umtata-weg herstel. In Edenvale is 25 slaggate in De Klerkshof, Edenglen en Eastleigh herstel. In Germiston is sewe slaggate in Jacobstraat en Blackreefweg in Norton Small Farms herstel. In Alberton is vier slaggate in Goldwing in Raceview herstel, terwyl daar drie slaggate in die Zuurfontein-begraafplaas in Kemptonpark herstel is.
“As ons moet wag vir die munisipaliteit – en teen die spoed wat hulle beweeg – gaan die paaie net verder agteruitgaan,” sê Nadia Olckers, AfriForum se Oos-Rand-distrikskoördineerder.
Hierdie projekte is slegs moontlik gemaak danksy die lojale bydraes van AfriForum-lede en die gemeenskap se vrygewige donasies.
Die AfriForum-takke sal steeds voortgaan om slaggate te vul, omdat dit ’n veiligheidsrisiko vir padgebruikers inhou. “Elke sent word teruggeploeg in ons gemeenskappe. Die munisipaliteit versuim steeds om die nodige dienste te lewer, maar verwag tog dat ons daarvoor moet betaal,” sluit Olckers af.
Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting oor hoe om by jou naaste AfriForum-tak betrokke te raak.

