AfriForum help tehuis vir gestremdes met noodkragopwekker
Die AfriForum-tak in Amanzimtoti het die Jona Vaughan-tehuis vir gestremdes op Woensdag 4 Junie van ’n tydelike noodkragopwekker voorsien. Die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit het die tehuis se krag die vorige dag (Dinsdag 3 Junie) afgesny omdat Durban Coastal Mental Health nie die fondse het om die uitstaande kragrekening van meer as R4 miljoen te betaal nie.
Die Jona Vaughan-tehuis is ’n organisasie sonder winsbejag wat ’n heenkome bied vir meer as 60 kinders en volwassenes met intellektuele en fisieke gestremdhede. Die tehuis word geadministreer deur Durban and Coastal Mental Health, wat deur die departement van Gesondheid, die departement van Maatskaplike Ontwikkeling en Sassa-toelaes befonds word.
Met die beskikbaarstelling van die noodkragopwekker aan die tehuis, wou AfriForum nog ’n Life Esidimeni-tragedie, waar minstens 140 pasiënte van die staat se geestesgesondheidspasiënte tussen Junie 2016 en Oktober 2017 weens verwaarlosing dood is, voorkom.
“Ons kon nie toesien hoe mense wat afhanklik is van ander – veral van die staat, sonder krag klaarkom nie. Ons het die tehuis van ’n noodkragopwekker voorsien sodat daar darem warm water vir die pasiënte is,” sê Tim Young, leier van AfriForum se Amanzimtoti-buurtwag.
“Ons sien daagliks hoe die staat nie sy verpligtinge nakom nie en hierdie optrede grens aan skending van menseregte. Ons oorweeg om verdere klagte by die Openbare beskermer en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in te dien,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.
AfriForum bedank Rapid Tools wat die kragopwekker beskikbaar gestel het.
Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van jou naaste AfriForum-tak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.