AfriForum help skole in Langeberg beveilig
Die AfriForum-tak in Langeberg het onlangs veiligheidsoudits by Laerskool Wakkerstroom-Wes en Hoërskool Montagu gedoen om dié skole se gereedheid vir veiligheidsgevare op te skerp. Die oudits vorm deel van AfriForum se pogings om gemeenskappe paraat en weerbaar te maak teen gevare wat Suid-Afrikaners daagliks in die gesig staar.
Die oudit handel oor basiese veiligheidsverwante kwessies soos die toestand van omheinings, voldoende beligting en die teenwoordigheid van veiligheidskameras. Dit is so ontwerp dat die betrokke skool dit kan gebruik om kwesbare areas te identifiseer en op te knap. Die oudit stel ook skole in staat om gebeurlikheidsplanne in plek te kry vir verskeie moontlikhede, soos byvoorbeeld brande, vloede, gewelddadige protesaksies of ontvoerings.
“Dit is van kardinale belang dat kinders in ’n veilige omgewing kan skoolgaan. Skole word baie keer gesien as ’n sagte teiken deur kriminele en daarom is dit belangrik om proaktief te wees. AfriForum beveilig gemeenskappe as ’n geheel, nie net woonbuurte nie, daarom sal die burgerregteorganisasie nie toelaat dat misdaad ’n vastrapplek kry nie,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
AfriForum het ook oudits beskikbaar vir kerke, sowel as plase. AfriForum wil graag jou skool of kerk oudit en jou gemeenskap nóg veiliger maak. Stuur vandag nog ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel 081 216 9602 om betrokke te raak.