|

AfriForum help met skoonmaak van 16 myl-strand aan Weskus

AfriForum se Weskus-tak het op Saterdag 31 Mei deelgeneem aan ’n omvattende skoonmaakprojek van die Weskus se 16 myl-strand, wat van Yzerfontein tot by die Langebaan-strandmeer strek. SANParke se ereveldwagters het hierdie geleentheid gereël in samewerking met AfriForum, Visions of Change, Yzerfontein Bewarea en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Yzerfontein.

Twee groepe vrywilligers van altesaam 45 mense het van weerskante van die strand begin werk en meer as 150 sakke se rommel opgetel. Dit is ’n indrukwekkende poging om die natuurlike omgewing te beskerm teen die toenemende bedreiging van plastiekbesoedeling.

Volgens Sidney Monk, voorsitter van AfriForum se Weskus-tak, is dit die gemeenskap se plig om aan projekte soos dié deel te neem. “Ons is bevoorreg om deel te kon wees van hierdie goed georganiseerde inisiatief en bedank ons AfriForum-lede wat hul Saterdag opgeoffer het om ’n verskil in hul omgewing te maak. Dit was ook vir ons ’n voorreg om saam met ander organisasies hande te vat en ’n sigbare impak te maak.”

AfriForum is veral bekommerd oor die hoeveelheid plastiekafval, dikwels afkomstig van bote se bemanning en passasiers, wat uit die see uitspoel. Hierdie plastiek breek af in mikroskopiese deeltjies wat maklik deur visse en ander diere ingeneem word en uiteindelik die voedselketting binnedring.

“As ons nie nou iets daaraan doen nie, gaan ons môre die gevolge dra. Die besoedeling in die see hou omgewings- en gesondheidsrisiko’s in,” sê Monk.

AfriForum bedank Yvette Muldoon van SANParke se ereveldwagters, wat as hoof organiseerder die inisiatief met toewyding en energie bestuur het.

Hierdie projek is ’n voorbeeld van hoe gemeenskappe deur samewerking daadwerklik kan optree om ons natuurlike erfenis te beskerm.

Om betrokke te raak by AfriForum se strukture in die Weskus, besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings