AfriForum help graag om onwettige storting in Tshwane te bekamp
AfriForum het sy hulp aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit aangebied om onwettige vullisstorting in die metro te bekamp. Die organisasie het reeds ’n aantal prioriteitsgebiede geïdentifiseer, waaronder Centurion, Pretoria-Wes, Hennopsrivier, Wolwespruit, Plastic View en Apiesrivier, wat eerste aandag moet geniet.
AfriForum het sy bereidwilligheid om saam met die Tshwane-metro teen onwettige vullisstorting te werk, in Januarie in ’n brief beklemtoon. Die metro het toe al laat hoor dat hulle die probleem sal ondersoek en terugvoer gee, maar AfriForum het sedertdien niks weer gehoor nie.
AfriForum sê in die brief dat onwettige vullisstorting ’n toenemende krisis in groot dele van Tshwane is, wat dringende aandag in samewerking met burgerregteorganisasies verg. Hierdie onwettige praktyk het ’n ernstige negatiewe impak op die omgewing en hou ’n direkte bedreiging vir die gesondheid en veiligheid van inwoners in.
Die organisasie het die Tshwane-metro verder versoek om onmiddellik sy planne bekend te maak om hierdie probleem daadwerklik te bekamp, asook die spesifieke stappe wat geneem gaan word om verdere onwettige vullisstorting te voorkom. AfriForum het ook ’n skakel na al sy Centurion- en Pretoria-takke uitgestuur waarop inwoners onwettige vullisstorting kan aanmeld, wat die Tshwane-metro gevolglik sal help om hierdie krisis spoedig te takel.
“Die situasie het ’n kritieke vlak bereik,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord. “Die munisipaliteit moet dringend ’n doeltreffende strategie implementeer wat werklik ’n tasbare verskil sal maak op voetsoolvlak en in samewerking met gemeenskapsrolspelers om hierdie probleem hok te slaan, aangesien dit gemeenskapslede is wat die ergste geraak word.”
“Die behoud van ’n skoon en veilige omgewing is in die belang van elke inwoner. Deur proaktief op te tree en samewerking te prioritiseer, kan ons ’n beduidende verskil maak. AfriForum se Centurion- en Pretoria-takke en gemeenskapslede het reeds ’n deeglike begrip van die mees geaffekteerde areas en is gereed om praktiese ondersteuning aan die munisipaliteit te bied,” voeg Hemmens by.
AfriForum doen ’n ernstige beroep op die gemeenskap om onwettige storting aan te meld. Inwoners van die Tshwane-munisipale gebied word aangemoedig om enige voorvalle van onwettige storting hier aan te meld. Saam kan ons ’n skoner en veiliger omgewing skep!
Om deel te raak van die AfriForum-takke in Centurion en Pretoria, klik hier.