AfriForum handig Malema Dossier in by VSA-komitee wat sanksies-wetsontwerp goedgekeur het

Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het gister die organisasie se Malema Dossier aan verteenwoordigers van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se Komitee vir Buitelandse Sake oorhandig. Hierdie komitee het in Julie ’n wetsontwerp goedgekeur wat die Trump-administrasie vereis om ’n volledige hersiening van die VSA-Suid-Afrika-verhoudinge te doen en om die Suid-Afrikaanse politici te identifiseer wat in aanmerking kom vir geteikende sanksies.

Hierdie wetsontwerp wag tans om in die Huis van Verteenwoordigers gedebatteer en gewysig te word voordat ’n stemming daaroor gehou sal word. Indien hierdie wetsontwerp wet sou word, sal die bogenoemde Huis van Verteenwoordigers se Komitee vir Buitelandse Sake ’n sleutelrol speel in die uitvoer daarvan, dus is die feit dat hulle nou die Malema Dossier onder oë het, krities.

Die omvattende Malema Dossier bied die grondslag vir internasionale optrede, soos geteikende sanksies teen die EFF-leier, Julius Malema, deur sy geskiedenis van aanhitsing tot geweld, beweerde betrokkenheid by korrupsie en sy steun vir terreurgroepe uiteen te sit.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, het Malema se vuurwapensaak-uitspraak bewys dat die stryd vir geregtigheid gereeld geduld vereis. “Dus doen AfriForum alles binne ons vermoë om daardie lang pad na geregtigheid te help plavei.”

“As deel van ons verskerpte internasionale veldtog, gaan AfriForum later hierdie jaar ’n nuwe ‘Die Wêreld Moet Weet’-verslag oor diskriminasie en haatspraak teen minderhede publiseer en internasionaal versprei,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik