Mynbou
|

AfriForum gee nuwe mynwetsontwerp rooi lig: ‘Dit voorspel omgewingsvernietiging en korrupsie’

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Klankgreep: Marais de Vaal (Engels)

AfriForum waarsku dat die Wysigingswetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne (2025) omgewingsvernietiging en korrupsie sal verskans deur vernietigende onwettige mynbou te formaliseer onder die vaandel van ekonomiese bemagtiging. In sy kommentaar wat gister ingedien is, sê die organisasie dat die wetsontwerp se vae definisies, swak afdwingingsbepalings en onbewese transformasieklousules die risiko inhou om ’n reeds onhanteerbare krisis in gewettigde anargie te omskep.

Suid-Afrika sukkel met ’n golf van vernietigende onwettige mynbou met operateurs wat rivieroewers stroop, waterweë met arseen en kwik vergiftig en misdaad in gemeenskappe aanvuur. Volgens AfriForum wettig die wetsontwerp as’t ware hierdie aktiwiteite deur die gebruik van vae terme soos “tradisionele mynboubedrywighede” en “ongemeganiseerde en primitiewe metodes” in sy definisie van “kleinskaalse mynbou”. Gekombineer met die plan om permitte uit te reik vir gebiede van slegs 1,5 hektaar en vir periodes van minder as twee jaar, kom dit neer op ’n blanko tjek vir omgewingskade.

AfriForum se beswaar wys daarop dat die departement van Minerale Hulpbronne en Energie (DMHE) reeds versuim om omgewingsregulasies teen grootskaalse myne af te dwing. Die kadastrale stelsel bly disfunksioneel, wat lei tot die uitreiking van meer as een mynreg oor dieselfde stuk grond, grondgeskille en lisensiëringsvertragings. Die byvoeging van honderde of duisende nuwe kleinskaalse permitte sal hierdie chaos net vererger.

“Die onwettige mynboukrisis kan nie opgelos word deur dit te lisensieer nie. Kriminele sindikate is in hierdie aktiwiteite ingewortel. Formalisering nou, sonder dat ’n behoorlike administratiewe ruggraat, beskermingsmaatreëls en afdwingingskapasiteit reeds daar is, is nie net roekeloos nie maar ’n direkte bedreiging vir watersekerheid, landbou en biodiversiteit. Dit maak ook nog ’n deur oop vir korrupsie,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

Die organisasie maak ook beswaar teen die Wetsontwerp se onbewese Swart Ekonomiese Bemagtigingsbepalings, wat volgens hom nie ware transformasie sal lewer om gewone Suid-Afrikaners op te hef nie.

Om die Wetsontwerp in wetgewing te onderteken voordat bewese afdwingingskapasiteit en geloofwaardige toesig oor omgewingsoortreders bestaan, sal die verklaarde voorneme daarvan ondermyn. AfriForum doen ’n beroep op die parlement en die DMHE om hierdie bepalings terug te trek en te wysig in belang van gemeenskappe wat ’n regulerende raamwerk vir mynbou verdien wat natuurlike hulpbronne beskerm – nie een wat wettelose uitbuiting lisensieer nie.

Soortgelyke plasings