Riool
|

AfriForum fokus op Emakhazeni se rioolkrisis in GOP

AfriForum se takke in die Emakhazeni-streek het ’n omvattende insetdokument ingedien as deel van die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP). Die kommentaar fokus sterk op die agteruitgang van rioolinfrastruktuur en die ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko’s wat dit vir dorpe soos Entokozweni, Belfast en Dullstroom inhou.

“Die GOP-proses is veronderstel om ’n strategiese beplanningsinstrument te wees waarin prioriteitsprojekte, begrotings en gemeenskapsbehoeftes geïdentifiseer word. Volgens AfriForum behoort hierdie platform gebruik te word om werklike oplossings en aksieplanne vir kritieke probleme soos rioolbestuur op te stel,” sê Arlo van Heerden , distrikskoördineerder vir AfriForum in die Laeveld.

In Entokozweni is die rioolaanleg steeds buite werking. Rou riool vloei in strate en riviere in, pompe werk nie weens kabeldiefstal en gebarste pype word nie herstel nie. Verder word daar ook bitter min herstelwerk aan rioolinfrastruktuur in die dorp gedoen, wat veroorsaak dat inwoners gereeld hulle dagtake moet voltooi terwyl riool deur hulle woonbuurte vloei.

In Belfast vloei riool in vleilande in en eindig dan selfs in die Belfast-dam, wat ’n primêre bron van drinkwater vir dié dorp is.  Alhoewel daar al met herstelwerk aan sekere dele van die infrastruktuur begin is, is daar geen korttermyn oplossings om die besoedeling en gesondheidsgevare te stop nie, aangesien die dorp se hoofrioolaanleg al vir meer as drie jaar buite werking is. In die dokument eis die tak dat herstelwerk versnel moet word en dat dringende korttermyn oplossings gekry moet word.

In Dullstroom is die rioolwerke ook in ’n haglike toestand, riool word nie behoorlik verwerk nie en vloei dan terug in die veld in net buite die aanleg. Pompstasies word nie onderhou nie wat veroorsaak dat riool in mangate opstoot en oorloop.

Volgens Arlo van Heerden, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Laeveld, toon hierdie situasie hoe ver die munisipaliteit afgedwaal het van die GOP se doelwit om dienslewering te verbeter. “Die GOP moet ’n plan wees om lewensomstandighede te verbeter, maar as basiese riooldienste in duie stort, moet iets aan die saak gedoen word. Hierdie is ’n krisis wat onmiddellike optrede vereis – nie net beloftes op papier nie,” sê Van Heerden.

AfriForum eis dat die munisipaliteit ’n noodplan vir instandhouding en -herstel aan rioolinfrastruktuur in die GOP opneem, met duidelike sperdatums, verantwoordelike rolspelers en gereelde terugvoer aan die gemeenskap.

AfriForum se Belfast-tak nooi inwoners uit om betrokke te raak by projekte wat druk op die munisipaliteit plaas om sy grondwetlike verpligtinge na te kom.

Soortgelyke plasings