|

AfriForum en watergebruikersvereniging herstel Kakamas-paaie

AfriForum se Kakamas-tak en die Kakamas-watergebruikersvereniging het saam bykans R115 000 spandeer aan die opgradering van die dorp se haglike paaie. ’n Kontrakteur is aangestel om die padoppervlak te herstel. Hierdie projek, wat van 3 tot 15 Junie plaasgevind het, is deel van AfriForum se jaarlikse #HerstelEnVerstel-projek.

Die weersomstandighede het ’n groot rol gespeel, aangesien die koue weer veroorsaak het dat die herstelwerk sekere dae gestaak moes word. Ten spyte van die weer, is die projek eindelik suksesvol voltooi.

Paaie wat herstel is, is 4de Laan tot by die Ouma Cillie-woonstelle en die vierrigtingkruising by 4de Laan en Luckhoffstraat. Die slaggate is behoorlik herstel en die kruising het ’n laag slyk bo-oor gekry. Oosthuizenstraat, voor Kakamas Watergebruikersvereniging, is sowat 80% oorgedoen.

“Baie dankie aan die Kakamas-watergebruikersvereniging wat bereid was om met AfriForum se Kakamas-tak hande te vat om die projek aan te pak en ’n sukses daarvan te maak. Ons bedank ook elkeen anders wat met die projek gehelp het. Ons hoop van harte om volgende jaar ’n groter bydrae te kan maak tot die #HerstelEnVersnel-projek,” sê Rozanne Van Rensburg, voorsitter van AfriForum se Kakamas-tak.

Soortgelyke plasings