|

AfriForum en die Bakgatla Ba Kgafela-gemeenskap – ’n invloedryke volk in Suider-Afrika – sluit ooreenkoms

AfriForum en die Bakgatla Ba Kgafela, ’n invloedryke volk in Suider-Afrika met setels in Suid-Afrika en Botswana, sal eerskomende Donderdag (26 Julie) ’n historiese wedersydse erkennings- en samewerkingsooreenkoms in Kaapstad onderteken. Kgosikgolo Kgafela Kgafela II, wat tans om veiligheidsredes in die Wes-Kaap woon nadat sy huis en voertuig weens brandstigting verwoes is, sal die ooreenkoms namens die Bakgatla Ba Kgafela onderteken.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, lei die ooreenkoms ’n nuwe era van goeie verhoudinge en samewerking tussen Afrikaners en die Bakgatla Ba Kgafela in – ’n verhouding wat veral gedurende die einde van die 19de eeu en die 20ste eeu skipbreuk gely het.

Die ooreenkoms vestig ’n bondgenootskap tussen die twee kultuurgemeenskappe, veral te midde van kgosikgolo Kgafela Kgafela II se skerp kritiek teen korrupsie onder die wakende oog van sommige ANC-leiers en die onbehoorlike inmenging van Suid-Afrikaanse politici en amptenare in tradisionele sake. Beide Afrikaners en die Bakgatla Ba Kgafela streef daarna om op grond van wedersydse erkenning en respek te bou aan ’n toekoms waar kultuurgemeenskappe vry, veilig en voorspoedig in vrede naas mekaar kan bestaan sonder die onbehoorlike inmenging van politici.

Die Bakgatla Ba Kgafela se grondgebied in Suid-Afrika beskik oor ryk platinumreserwes wat groot potensiaal vir dié kultuurgemeenskap inhou. Kgosikgolo Kgafela Kgafela II het na Suid-Afrika gekom om die uitdagings wat die Bakgatla Ba Kgafela in Suid-Afrika teister, die hoof te bied. Uitdagings sluit in aantygings van korrupsie en diefstal van platinumopbrengste ten bedrae van honderde miljoene rande en onbehoorlike inmenging deur provinsiale amptenare en politici in die gemeenskap se tradisionele leierskap. Kgosikgolo Kgafela Kgafela II se beslissende optrede en uitgesprokenheid oor dié ernstige probleme het hom egter nou die teiken van aanvalle gemaak.

“Wat die Bakgatla Ba Kgafela se huidige weersin in die ANC opspraakwekkend maak, is die feit dat kgosikgolo Kgafela Kgafela II se eie pa, kgosikgolo Linchwe II, die party in hul anti-apartheidstryd bygestaan het. Vandag lyk sake heeltemal anders. Die ANC het hul voormalige vriende nie net in die steek gelaat nie, maar as’t ware in die rug gesteek, vyande van die Bakgatla Ba Kgafela geword en toegelaat dat die rykdom van dié gemeenskap geplunder word,” verduidelik Uys.  

Historiese konteks van Afrikaner- en Bakgatla Ba Kgafela-verhoudinge

Die Bakgatla Ba Kgafela word deur ’n internasionale grens verdeel, maar is verenig onder die leierskap van kgosikgolo Kgafela Kgafela II, ’n afstammeling van kgosi Kgamanyane. Kgosikgolo benoem die kgosi wat namens hom die nagenoeg 350 000 Suid-Afrikaanse lede van die Bakgatla Ba Kgafela – wat in 32 dorpies in die omgewing van die Pilanesberg Nasionale Park in Noordwes woon – lei.

Die Bakgatla Ba Kgafela-kultuurgemeenskap woon sedert die vroeë 1800’s in die destydse Moruleng-omgewing (naby die teenswoordige Pilanesberg Nasionale Park). Hoewel die meerderheid van dié volk vandag hier woonagtig is, het ’n groot gedeelte, insluitend die vernaamste families, onder leiding van kgosi Kgamanyane, in die vroeë 1870’s na die Mochudi-omgewing in Botswana uitgewyk. Dit het gevolg ná wrywing met Paul Kruger en ander amptenare van die destydse ZAR.

Verhoudinge tussen Afrikaners en die Bakgatla Ba Kgafela, onder leiding van kgosikgolo Linchwe I, was weens laasgenoemde se betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) aan die kant van Brittanje in die vroeë 20ste eeu, steeds gespanne.

Soortgelyke plasings