|

AfriForum eis Vrystaatse premier om dringend by Welkom-waterkrisis in te gryp

AfriForum doen ’n beroep op die Vrystaatse premier en die departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) om toe te sien dat die watertoevoer na residensiële eiendom in Welkom onmiddellik herstel word. Terwyl water vryelik in die dorp se strate afstroom weens lekkasies, het inwoners geen water by hul wonings nie.

Dié versoek volg nadat die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit AfriForum en gefrustreerde inwoners se pleidooie oor die waterkrisis blatant ignoreer.

Welkom se watertoevoer is al vir die laaste paar maande ’n ernstige probleem. Die situasie het intussen só vererger dat gemeenskapslede met tye vir ’n week lank op ’n slag geen water het nie of op die mees ongeleë tye beurtwater moes verduur.

Die gebrek aan water is die gevolg van swak instandhouding en onwilligheid van die Matjhabeng-munisipaliteit om hul verpligtinge na te kom soos uiteengesit in die Grondwet en ander toepaslike wetgewing.

Indien daar wel water in die krane is, is die gehalte daarvan ook so swak dat dit onbruikbaar is. AfriForum beplan om binnekort watermonsters te neem en dit by ’n onafhanklike laboratorium te laat toets.

AfriForum het al verskeie briewe – waarvan die laaste brief einde Januarie gedateer is – aan die plaaslike munisipaliteit gerig waarin die nakoming van die grondwetlike verpligtinge geeis word en dat die infrastruktuur in Welkom opgegradeer en/of behoorlik in stand gehou word om te verseker dat alle inwoners van voldoende water voorsien word. Die wanbestuur van waterbronne het daartoe gelei dat reservoirs binne die munisipale gebied opgedroog het. AfriForum het tot op hede geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie.

AfriForum het intussen verlede week ’n brief aan die Vrystaatse premier en Cogta oor die dringende waterkrisis in Welkom gestuur. Van die probleme wat die organisasie is sy brief aangeraak het, is beurtwater en die gereelde waterlekke wat nie aandag geniet nie en die gevolg is van onvoldoende instandhouding en bestuur van pypleidings. Alhoewel daar genoeg water is om die hele Matjhabeng-gebied daagliks van voldoende water te voorsien, dra die konstante waterlekke en lekkende afsluitkleppe by tot die onvoldoende watertoevoer.

AfriForum versoek dat die Vrystaatse premier en Cogta dringend ingryp om die volgende te verseker:
• ’n Volledige ondersoek na die waterprobleme in die Matjhabeng-munisipale gebied, spesifiek die gereelde waterlekke in verskeie gebiede wat nie opgelos word nie.
• ’n Aksieplan van die Matjhabeng-munisipaliteit om die waterprobleme op te los en soortgelyke kwessies in die toekoms te voorkom.
• Gereelde monitering van die pypleidings om te verseker dat dit aan die vereiste standaarde voldoen.
• Gereelde betalings aan die Vaal Sentraal Waterraad om ’n gesonde betalingsrekord te verseker.

“Die inwoners van Welkom is nou keelvol vir die munisipaliteit se onvermoë om dienste in die dorp te lewer. Welkom, wat as ’n ankergemeenskap in die Hooglanddistrik beskou word, se verval het ’n punt bereik waar daar amper geen redding meer is nie,” sê Christa Ikking, Afriforum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Indien AfriForum nie tevrede is met die terugvoer op sy briewe aan die Vrystaatse premier en Cogta nie, sal verdere stappe oorweeg word.

Soortgelyke plasings