|

AfriForum eis terugbetaling ná onregmatige kragkabeltarief in Kempton Park geskrap is

AfriForum het die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit versoek om dadelik die inwoners van Kempton Park te vergoed of te krediteer vir die duisende rand wat hulle moes opdok vir die herstel van munisipale kragverbindings. Die inwoners van die Cresslawn-woonbuurt, wat al lank slagoffers van kabeldiefstal is, moes sedert 2023 op die metro se aandrang, vir die herstelwerk aan munisipale infrastruktuur betaal in gevalle van kabeldiefstal.

Alhoewel die uitvoerende burgemeester in Maart vanjaar aangekondig het dat die tarief van bykans R2 000 geskrap gaan word, moes sommige inwoners maande later steeds die fooi betaal voordat hulle krag herstel is. Dié munisipaliteit het ná verskeie skrywes, petisies en selfs ’n regsbrief van AfriForum, op 22 Julie bevestiging gegee dat daar wel met die tarief weggedoen is.

Die burgerregteorganisasie versoek nou die terugbetaling of kreditering van die munisipale rekeninge van individue wat dié tarief moes betaal. Die metro het tot 10 September om aan AfriForum se jongste versoek gehoor te gee.

“Dit is onredelik om inwoners aanspreeklik te hou vir die skade wat aan munisipale infrastruktuur berokken word. Dit is duidelik dat die tarief onregmatig is, daarom moet die metro sorg dat die nodig prosesse in plek is om ’n terugbetaling of kreditering te behartig,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum is daartoe verbind om die metro verantwoordbaar te hou en te verseker dat hy onderneem om voorts gesteelde kragkabels sonder addisionele fooie te herstel, ’n volhoubare aksieplan vir die bekamping van kabeldiefstal saam te stel en ’n doeltreffende rapporteringsproses op die been te bring. 

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf