AfriForum eis optrede van JB Marks-munisipaliteit oor aanhoudende rioolbesoedeling in Mooirivier
AfriForum doen ’n beroep op die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit om dringend in te gryp by die voortdurende en volgehoue storting van rou riool in die Mooirivier op verskeie plekke in Potchefstroom. Hierdie besoedeling is ’n groot omgewings-, gesondheids- en ekonomiese risiko.
Luidens ’n brief, wat AfriForum op 15 Januarie aan die munisipaliteit gerig het, is ’n belangrike punt van bekommernis ’n huidige rioollekkasie by Poortmanstraat 37, waar rou rioolwater in die stormwaterstelsel op die terrein van ’n groot internasionale onderneming, wat Potchefstroom vir sy bedrywighede gekies het, stelselmatig in die Mooirivier afvloei. Die volgehoue besoedeling op hierdie spesifieke plek laat belangrike vrae oor die impak van so ’n omgewingsmislukking op beleggersvertroue. Indien ondernemings gedwing word om weens munisipale verwaarlosing te onttrek, sal die verlies aan plaaslike ekonomie, insluitend werksgeleenthede en belastinginkomste, beduidend wees.
AfriForum beklemtoon die munisipaliteit se wanprestasie om hierdie kwessies, ondanks verskeie waarskuwings, op te los. Hierdie totale gebrek aan optrede is nie net ’n oortreding van Suid-Afrikaanse wetgewing nie, maar ondermyn ook die munisipaliteit se grondwetlike pligte soos vervat in die Grondwet, die Nasionale Omgewingsbestuurswet en die Nasionale Waterwet. Die rioolbesoedeling is onwettig en benodig onmiddellike herstelmaatreëls om verdere omgewingsagteruitgang te voorkom.
In sy brief eis AfriForum van die JB Marks-munisipaliteit dat die rioollekkasie in Poortmanstraat onmiddellik herstel word en bevestiging dat rioolwater nie meer in die stormwaterstelsel of die Mooirivier invloei nie; ’n omvattende inspeksie en remediëringsplan vir alle liggings van rioolbesoedeling wat die Mooirivier raak; asook ’n skrywe van bevestiging van stappe wat gedoen is om die rioolbesoedeling in die Mooirivier te stuit, insluitend wie die verantwoordelike amptenare is, binne 14 dae vanaf die ontvangs van hierdie kennisgewing.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê dat indien die munisipaliteit nie ferm optree nie, die organisasie geen keuse sal hê as om strafregtelike klagtes in te dien, regsaksies te begin en verder met die publiek hande te vat om nakoming van omgewingsregulasies af te dwing en die Potchefstroom-gemeenskap teen voortgaande skade te beskerm nie. “Hierdie aangeleentheid is dringend en ons vertrou dat die munisipaliteit dit met die nodige erns sal hanteer,” sluit Pretorius af.
Douglas Bourn, AfriForum se voorsitter van die Potchefstroom-tak, is van mening dat hierdie rioolkrisis wat buite beheer is, ’n bewys is van die feit dat die huidige munisipale bestuurder geen beheer het oor die munisipaliteit wat hy veronderstel is om te bestuur nie. “Alhoewel hy al telkemale gevra is om te bedank, weier hy en gaan net voort om die munisipaliteit die grond in te bestuur,” sê Bourn.
Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak- en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.





