water, kraan
|

AfriForum eis onmiddellike water van die Ugu-munisipaliteit

AfriForum se Laer-Suidkus-tak doen ’n beroep op die Ugu Distriksmunisipaliteit om al die waterpunte, wat die munisipaliteit aan gemeenskappe beskikbaar gestel het, onmiddellik van water te voorsien. Die doel van hierdie waterpunte is om verligting te bring aan inwoners wat sonder water moet klaarkom, maar die munisipaliteit doen nie hul deel om dié punte met water te vul nie.

Die organisasie kry heelwat klagtes van lede oor die munisipaliteit se onvoldoende watervoorsiening aan gemeenskappe weens wateronderbrekings. Gebiede wat die ergste geraak word, is Palm Beach, Munster, Leisure Bay, Port Edward, Banners Rest, Hibberdene, Umzumbe, Phumula en Sea Park.

AfriForum het op 25 Februarie ’n brief aan die Ugu Distriksmunisipaliteit gestuur om duidelikheid oor die gereelde wateronderbrekings aan die Suidkus, veral aan die verre noordelike- en suidelike dele van die Ugu-distriksmunisipale gebied.

“Van ons gemeenskappe het slegs twee tot drie ure weekliks – of elke tweede week – toegang tot vloeiende water. Daar is ook baie ernstige waterlekke wat dae neem voordat dit herstel word, terwyl liters gesuiwerde water verlore raak,” sê JP Nel, AfriForum se voorsitter van die Laer-Suidkus-tak.

In die brief eis AfriForum antwoorde van die munisipaliteit oor waarom dit so lank neem om hierdie waterlekke te herstel.

“Ons sien daagliks hoe die staat, waaronder munisipale infrastruktuur, veral. Dit raak net erger en ons sal meer moet doen om toegang tot skoon water te bevorder,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum sal aanhou druk op die munisipaliteit toepas om te verseker dat die Laer-Suidkus se waterprobleme iets van die verlede is.

Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van jou naaste AfriForum-tak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings