AfriForum eis nasionale ondersoek na polisiebetrokkenheid by veediefstal
Die burgerregteorganisasie AfriForum eis ’n formele nasionale ondersoek na polisiebetrokkenheid by veediefstal. Dié versoek volg in reaksie op die arrestasie van ’n lid van die Standerton-veediefstaleenheid, konstabel Siyabonga Cindi, verlede week. Cindi, wat Dinsdag (2 September) in die hof op Amersfoort verskyn het, staan tereg op aanklag van die diefstal van nagenoeg R450 000 se beeste in die Standerton-, Greylingstad- en Perdekop-omgewing.
AfriForum benadruk dat ’n nasionale ondersoek na die betrokkenheid van lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) by veediefstal noodsaaklik is aangesien Cindi se geval nie uniek is nie. In Maart vanjaar is Mokete Jacob Mokoena, stasiekommissaris van die Tweeling-polisiestasie, skuldig bevind aan veediefstal, en in Julie 2021 is vyf lede van die SAPD in die Vrystaat in hegtenis op aanklag van veediefstal, meineed en regsverydeling. Daarbenewens het Vrystaatse boere in 2019 ’n verslag aan die Valke voorgelê met omvattende inligting rakende ’n georganiseerde veediefstalsindikaat in die Vrystaat. Die verslag het onder meer name van verdagtes sowel as bewyse van polisiebetrokkenheid by dié netwerk bevat. Dié deurlopende gevalle van polisiebetrokkenheid by veediefstal vereis daarom ’n ondersoek, beklemtoon die burgerregteorganisasie.
Volgens Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, is die betrokkenheid van sogenaamde beskermers van die landbougemeenskap by veediefstal uiters kommerwekkend. “Ten spyte van jare se inligting, bewyse en skuldigbevindings wat wys op polisiebetrokkenheid by veediefstal, blyk dit dat daar steeds nie veel gedoen word om die probleem uit te roei nie. Die polisie se betrokkenheid by veediefstal ondermyn die stryd wat die landbougemeenskap teen dié multimiljoenrand misdaad stry. Dit plaas boonop ook menselewens in gevaar en bedreig boere se finansiële voortbestaan,” verduidelik hy.
“Korrupte polisiebeamptes – en veral korrupte beamptes in veediefstaleenhede – wat by veediefstal betrek word, vertrap die goeie werk van eerlike en toegewyde lede en takel die skamele vertroue wat die publiek nog in die polisie het, selfs verder af. Ons kan nie langer toelaat dat die einste mense en eenhede wat daargestel is om boere en hul vee te beskerm, hul misdade onverpoos voortsit nie. Misdadigheid in die polisie moet wortel en tak uitgeroei word en ’n dringende en deursigtige ondersoek is derhalwe nou noodsaaklik,” sluit Broodryk af.
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, benadruk intussen dat Cindi sy magsposisie as polisielid misbruik het om homself te verryk en was deur sy betrokkenheid by die veediefstaleenheid in ’n posisie om sy misdade te verdoesel. “Dit is egter positief om te weet dat geregtigheid ook opvang met dié wat die hulpbronne en vermoëns het om die gereg te probeer systap. Ons sal Cindi se saak voortaan monitor om te verseker dat geregtigheid geskied,” sê hy.
AfriForum het sedert Junie vanjaar ’n opleidingsprogram aan die organisasie se 170 buurt- en plaaswagte beskikbaar gestel om dié burgerlike misdaadsbekampingspanne te bemagtig met spesialiskennis vir die bekamping van veediefstal. Dié en ander kursusse – waaronder ook ’n gespesialiseerde spoorsnykursus – wat AfriForum gratis aan die organisasie se buurt- en plaaswaglede bied, bemagtig lede met die nodige kennis en vaardighede om die knellende misdaadprobleme wat landelike gemeenskappe teister, hok te slaan. Dié opleiding het reeds vrugte afgewerp en AfriForum se buurt- en plaaswagte was reeds aktief betrokke by verskeie suksesvolle veediefstalbekampingoperasies.
Cindi se borgtogaansoek is uitgestel tot 29 September. Hy bly intussen in aanhouding.
Bekker nooi die publiek uit om deel te neem aan AfriForum se pogings om Cindi en ander vermeende veediewe se borgtog teen te staan. Teken AfriForum se petisie hier.