|

AfriForum eis ingryping ná jarelange watervermorsing huise in Klerksdorp beskadig

AfriForum het ’n formele versoek aan die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit gerig om onmiddellik op te tree teen die voortgesette en ernstige watervermorsing in Randlespark, Klerksdorp. Die probleem, wat reeds meer as drie jaar lank duur, lei tot groot skade aan privaat eiendomme sowel as openbare infrastruktuur.

Verskeie inwoners van Bloedrivierstraat meld dat munisipale water glo ondergronds uitborrel en die fondasies van hul huise deurdrenk. Mure raak deurnat en begin verweer, terwyl water deur die teerstrate sypel wat die padoppervlak laat verswak. Volgens berigte hou die probleem verband met ’n installasieprojek wat gestaak is nadat die kontrakteur glo nie betaal is nie. Nieteenstaande spruit daar gereeld ’n bykans onuitputbare bron water vanuit die grond, wat beteken dat groot hoeveelhede water ondergronds vermors word, terwyl infrastruktuur bogronds verbrokkel.

AfriForum wys daarop dat hierdie aangeleentheid ’n oortreding van verskeie wette en regulasies is, insluitend artikel 27(1)(b) van die Grondwet, artikel 151(1)(i) van die Nasionale Waterwet, regulasies onderhewig aan die Wet op Waterdienste 108 van 1997 en die Wet op Munisipale Stelsels 32 van 2000.

AfriForum eis daarom dat die munisipaliteit:

  1. ’n Tegniese inspeksie doen en die lek onmiddellik herstel.
  2. Die installasieprojek sonder uitstel voltooi.
  3. Verslag doen oor die oorsaak van die vertraging en aan die gemeenskap die verwagte voltooiingsdatum deurgee.

Indien die munisipaliteit nie binne 14 dae optree nie, sal AfriForum die saak verder eskaleer en regsaksie oorweeg.

“AfriForum benadruk dat die voortgesette vermorsing van ’n seldsame hulpbron nie net onaanvaarbaar is nie, maar ook die munisipaliteit moontlik aanspreeklik maak vir die grootskaalse skade aan eiendomme en die omgewing. Die versuim om hierdie probleem met die nodige dringendheid te hanteer, is onverskoonbaar,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

AfriForum moedig inwoners aan om voort te gaan om onreëlmatighede aan te meld, aangesien burgerlike samelewing ’n kragtige teenvoeter vir staatsverval is.

Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se tak in Klerksdorp aan te sluit of kontak Alta Pretorius by 081 392 2071 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings