AfriForum eis dringende optrede teen rioolbesoedeling in Viljoenskroon
AfriForum het op Maandag 7 Julie ’n dringende versoek aan die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit gerig om onmiddellik op te tree teen die ernstige rioolbesoedeling wat die gemeenskap van Viljoenskroon en Rammulotsi raak.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het die munisipaliteit oop slote deur Rammulotsi gegrawe om rou riool sowat 3 km van die rioolaanleg na die Vredefort-pad te herlei. Hierdie praktyk het ’n direkte negatiewe impak op omliggende mielieplase en veroorsaak ’n ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko.
AfriForum het ook kommer uitgespreek oor die veiligheid van kinders wat daagliks deur die besoedelde gebied stap op pad na die plaaslike padstal, wat nou omring is deur ’n ondraaglike stank. Die vleiland, wat eens ’n toevlugsoord vir voëllewe was, is nou feitlik dood as gevolg van die rioolbesoedeling.
In ’n brief aan die waarnemende munisipale bestuurder van die Moqhaka-munisipaliteit, eis AfriForum die onmiddellike beëindiging van riool wat in oop slote herlei word, asook ’n dringende inspeksie by – en opgradering van – die rioolaanleg. Voorts versoek die organisasie ’n omgewingsimpakstudie van die betrokke vleiland en omliggende landbougrond, intervensies om kwesbare gemeenskappe, veral kinders, se gesondheid te beskerm en deursigtige kommunikasie oor regstellende maatreëls en tydlyne.
“Die situasie is onaanvaarbaar. Nie net is dit onhigiënies en vernietigend vir die omgewing nie, maar dit is ook in stryd met verskeie bepalings van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Afval (Wet 59 van 2008),” sê Pretorius. “Die munisipaliteit het ’n wetlike plig om besoedeling te voorkom en volhoubare ontwikkeling te verseker.”
Indien die munisipaliteit versuim om spoedig op te tree, sal AfriForum die saak na provinsiale en nasionale owerhede eskaleer en regstappe oorweeg om nakoming af te dwing.
“Ons sal nie toekyk hoe ons gemeenskappe en omgewing vernietig word nie. Die munisipaliteit moet verantwoordelikheid neem en dadelik optree,” sluit Pretorius af.
Indien jy wil betrokke raak by die AfriForum-tak in Viljoenskroon, kontak Attie Barnard by 082 557 1428. Om by AfriForum se Viljoenskroon-buurtwag betrokke te raak, kontak Herman Smit by 072 127 2250.