AfriForum eis deeglike ingryping by gevaarlike Parys-kruising, terwyl munisipaliteit net halwe werk doen
Die AfriForum-tak in Parys het ’n dringende versoek aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gerig om onmiddellike optrede te neem by die gevaarlike kruising van Bree- en Van Collerstraat, waar ’n noodlottige ongeluk onlangs twee lewens geëis het.
In ’n brief aan die munisipale bestuurder, dr Futhuli Mothamaha, op 25 Julie het AfriForum gewaarsku dat die huidige toestand van hierdie verkeersligte nie net ’n oortreding van wetlike verantwoordelikhede is nie, maar ook ’n direkte bedreiging vir die publiek se veiligheid inhou. Sedert AfriForum se brief gestuur is, het die Ngwathe-munisipaliteit intussen opgetree.
In Breestraat was die regterkantse verkeerslig vir motoriste wat van Vredefort se kant af kom in die ongeluk beskadig en buite werking terwyl die verkeerslig aan die linkerkant skeef, moeilik sigbaar en gedeeltelik disfunksioneel was. Na AfriForum en ander se volgehoue druk, het die munisipaliteit hierdie verkeersligte Vrydagmiddag regop geplant. Die verkeerslig aan die regterkant is egter steeds nie in ’n werkende toestand nie. Dus werk geen verkeerslig vir motoriste wat Parys vanaf Vredefort binnekom, tans behoorlik nie, wat groot verwarring en lewensgevaar veroorsaak.
Verder vererger die gereelde kragonderbrekings die situasie, aangesien geen verkeersbeamptes ontplooi word om die verkeer te beheer nie terwyl die verkeersligte nie werk nie.
In die brief eis AfriForum dat die beskadigde verkeersligte by Bree- en Van Collerstraat heeltemal herstel en vervang word; die ontplooiing van verkeersbeamptes tydens beurtkrag of kragonderbrekings; en die aanbring van tydelike of permanente stoptekens, soos toegelaat deur Regulasie 323 van die Nasionale Padverkeersregulasies van 2000.
AfriForum verwys ook na artikel 96 van die Nasionale Padverkeerswet, wat die plig op plaaslike owerhede plaas om veilige en doeltreffende verkeersregulering te verseker. Die organisasie het gewaarsku dat volgehoue versuim om hierdie verantwoordelikheid na te kom, as growwe verwaarlosing van statutêre pligte beskou kan word.
“Twee mense is reeds dood. Elke dag wat verbygaan sonder optrede, stel nóg mense se lewens in gevaar,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier. “Ons is gereed om in gesprek met die munisipaliteit te tree, maar sal nie huiwer om regsaksie of openbare druk toe te pas as daar nie onmiddellik opgetree word nie,” sluit Pretorius af.
Volgens Schalk Burger, AfriForum se takvoorsitter in Parys, kan motoriste, wat Parys vanaf Vredefort nader, glad nie sien dat daar ’n verkeerslig is nie en die verkeerslig op die hoek van Father Balink (voorheen Kruisstraat)- en Loopstraat is net so gevaarlik omdat dit feitlik nooit werk nie. “Dis onverstaanbaar hoekom daar nie onmiddellik aan hierdie lewensgevaarlike toestande aandag gegee word nie,” sluit Burger af.
Om by die tak aan te sluit, kontak Burger by 082 653 4281.
