|

AfriForum eis antwoorde oor SAPD se gebruik van privaat sekuriteit te midde van regeringsplanne om wagte te ontwapen

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

AfriForum het ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gerig om duidelikheid te verkry oor die aantal polisiestasies wat op privaat sekuriteit staatmaak om polisiestasies en ander SAPD-persele te beveilig.

Hierdie versoek volg nadat Senzo Mchunu, die minister van Polisie, op 28 Maart voorgestelde wysigings aan regulasies ingevolge die Wet op die Regulering van die Privaat Sekuriteitsbedryf, in die Staatskoerant gepubliseer het. Luidens berigte neem verskeie polisiekantore privaat sekuriteitsmaatskappye vir beveiligingsdoeleindes in diens omdat polisiebeamptes glo, weens personeeltekorte en hulpbronbeperkings, nie in staat is om selfs basiese perseelveiligheid te bewerkstellig nie.

“Terwyl die SAPD op die privaat sekuriteitsbedryf staatmaak om in sommige gevalle hul geboue te beveilig, wil dieselfde regering nou regulasies deurdruk wat daardie sektor magteloos sal maak – dit is absurd. As hierdie wysigings aanvaar word, sal nie eens polisiekantore meer doeltreffende beskerming hê nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Volgens AfriForum is die voorgestelde wysigings baie gebreke en dreig om die hele privaat sekuriteitsbedryf lam te lê. Van die opvallendste rooi vlae, is die volgende:
• Ontwapening op grond van verdenking: Sekuriteitsmaatskappye kan verbied word om vuurwapens aan hul beamptes uit te reik as die maatskappy bloot ondersoek word, ongeag of enige klagte gelê is.
• Verbod op vuurwapens in openbare ruimtes: Gewapende beamptes kan verbied word om vuurwapens in openbare ruimtes soos winkelsentrums, skole of kerke te dra, tensy streng en onduidelike voorwaardes nagekom word.
• Onduidelike beperkings op ammunisie: Die voorgestelde regulasies beperk ammunisie tot ’n “redelike hoeveelheid” sonder om te definieer wat “redelik” beteken, wat wetlike en operasionele onsekerheid inhou.
• Onhaalbare vereistes vir die nasporing van vuurwapens: Elke vuurwapen moet ’n opsporingstoestel hê, wat ’n onredelike versoek is, met inagneming van die huidige streng regulasies rakende die uitreiking van vuurwapens aan sekuriteitsbeamptes.
• Verbod op minder dodelike toestelle: Die voorgestelde regulasies verbied die gebruik van rubberkoeëls, skokwapens en waterkanonne, wat kritieke hulpmiddels is vir die bestuur van onluste, stakings en gewelddadige oproerigheid.

“In ’n land waar geweldsmisdaad hoogty vier en die SAPD se hulpbronne ooreis is, het privaat sekuriteit ’n reddingsboei vir miljoene Suid-Afrikaners geword. Om hierdie sektor nou onder die dekmantel van regulering te ontwapen, is nie net irrasioneel nie – dit is gevaarlik. Ons het die publiek se ondersteuning nodig sodat ons ons beskermers kan beskerm,” sluit Broodryk af.

AfriForum doen ’n beroep op alle lede van die publiek om die organisasie se pogings om hierdie roekelose regulasies teen te staan, te ondersteun. Die sperdatum vir openbare voorleggings is 25 April. Klik hier om jou stem te laat hoor.

Soortgelyke plasings